Varsitybeker: Iets vir (feitlik) almal in die laaste ronde

Wie speel in die halfeindwedstryde en waar? En wie skuif af en wie moet in ʼn promosie/relegasiewedstryd speel?

Dít is die vrae rondom Maandagaand se laaste ligaronde van vanjaar se Varsitybekerreeks, waar daar vir al die spanne behalwe die Shimlas nog iets is om voor te speel.

♦  Die Maties en die NWU-Pukke speel op Potchefstroom om te bepaal wie eindig eerste om tuisveldvoordeel vir die halfeind en moontlike eindstryd te kry.

♦  UP-Tuks moet tuis teen die Madibaz wen om te verseker hy eindig nie tweede laaste nie. Verloor Tukkies, kan die Pretorianers dalk nog in ʼn promosie/relegasiewedstryd teen die tweede beste span van die Varsityskildreeks speel (mits die Ixias die Shimlas klop); verloor die Madibaz, eindig hulle laaste en word outomaties afgeskuif na die Varsityskildreeks.

♦  UJ moet die Ikeys klop om ʼn halfeindplek te verseker. Verloor hulle teen die Ikeys, kan bonuspunte die deurslag gee oor wie derde eindig.

Derde? Nie noodwendig nie. Die Witsies het ʼn loslootjie, en hulle sal duim vashou dat die Ikeys wen en UJ uitstoot – want wen UJ skuif Wits na vierde plek af.

Wen die Ikeys met ʼn bonuspunt teen UJ, moet dit egter nie te ver wees nie, want dan kom Wits se derde plek, op punteverskil, in gedrang!

♦  In Bloemfontein kan die Shimlas, selfs met vyf ligapunte, nie meer bo UJ verbyskuif nie. Die groot loesings wat die Shimlas in hulle verloorwedstryde gely het, maak dat hulle op punteverskil ook sleg sou afsteek as Ikeys teen UJ wen en die Shimlas en die Ikeys dalk ewe veel ligapunte het.

Die Shimlas kan nie meer vir Wits inhaal nie.

♦  Kan die Ixias die Shimlas op hulle tuisveld klop? Onwaarskynlik, maar die Shimlas het vanjaar sulke insinkings getoon dat die veel verbeterde Ixias dalk net kan verras ­– en dan sal hulle by Tuks verbybeweeg as die Pretorianers teen die Madibaz vasval, wat vir Tuks ʼn relegasie-uitspeelwedstryd kan beteken.

♦  Die Madibaz sal, op hul beurt met ʼn onwaarskynlike sege teen Tuks, nie laaste eindig as die Ixias wel teen die Shimlas verloor nie.

Die laaste span skuif af, die voorlaaste span  is in ʼn relegasiewedstryd betrokke. die Walter Sisulu-Universiteit.

Opgesomde punteleer (wedstryde, punteverskil, ligapunte) –

Maties (7, 172, 31)
Pukke (7, 148, 30)
Wits (8, 11, 25)
UJ (7, 106, 23)
Ikeys (7, 2, 20)
Shimlas (7, -74, 19)
Tuks (7, -12, 10)
Ixias (7, -221, 7)
Madibaz (7, -132, 4)

Maandagaand se bepalings –

16:45 – Shimlas vs Ixias (TV)
18:30 – Tuks vs Madibaz
18:30 – UJ vs Ikeys
19:00 – Pukke vs Maties (TV)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.