Video: SA’ners sorg vir tikkie Sale-geskiedenis

Die Sale Sharks-span. Foto: Twitter.

Die Springbok-buksie Faf de Klerk het weer eens sy stempel dubbel en dwars vir die Sale Sharks afgedruk toe sy drie daartoe bygedra het dat die klub vir die eerste keer in sy geskiedenis met die Premiership Rugby Cup-titel weggestap het.

Die Sharks het 27 – 19 met Harlequins in die eindstryd afgereken om hul eerste trofee in 14 jaar omhoog te hou.

Die 28-jarige De Klerk het in die tweede helfte as plaasvervanger sy verskyning op die veld gemaak en dit was sy drie in die 78ste minuut van die spel – en met die telling 20 – 19 in die Sharks se guns – wat die wedstryd vir die Sharks beklink het.

Die Du Preez-broers het ook sleutelrolle in die Sale-oorwinning vertolk; met Dan wat ’n drie gedruk het en Rob wat met ’n paar belangrike doelskoppe geslaag het.

Die voormalige WP-losskakel verdien ’n pluimpie vir die koelkop-wyse waarop hy die finale doelskop deur die pale gejaag het.

Maar De Klerk ry tans op die kruin van die skrumskakelgolf en word deur baie kenners as die beste ter wêreld bestempel.

Gisteraand se drie het immers weer van emmersvol visie en vernuf getuig.

Volgens oudskrumskakel Conrad Breytenbach, die man wat die openingsdrie vir die Blou Bulle in die Curriebeker-eindstryd van 1998 gedruk het, is De Klerk ongetwyfeld die beste no. 9 ter wêreld.

“Sedert die Wêreldbeker-eindstryd speel Faf amper daagliks met meer selfvertroue. Sy werkverrigting, buiten sy normale pligte as ’n skrumskakel, is ongelooflik hoog gedurende ’n wedstryd en dit laat hom beslis bo ander uitstyg.”

Die agt Suid-Afrikaanse spelers in die Sharks-groep – Rob du Preez (losskakel), Faf de Klerk (skrumskakel), Dan du Preez (agtsteman), Jono Ross (kaptein en flank), Lood de Jager (slot), Jean-Luc du Preez (slot), Akker van der Merwe (haker) en Coenie Oosthuizen (stut) – het vroeër vir opslae gesorg toe hulle nie die knie ter ondersteuning van die Black Lives Matter-beweging gebuig het nie.

Hoewel Suid-Afrika se minister van sport Nathi Mthethwa ongelukkig oor die gebeure was, het hy uiteindelik gesê dat daar nie teen die spelers opgetree sal word nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Adam Adriaan ·

Baie geluk!!!Suid Afrikaners bly maar ysters op die rugby veld. Net jammer die ANC/EFF is besig om alle sport te vernietig,met regstelende aksie/ kwotas as tema. Ons spelers van kleur is op meriete net so goed soos enige wit speler. Hulle het dieselfde inbors/veggees entrots.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.