VRK-reeks: Dit kan nog ‘n goue seisoen vir Suid-Afrika wees

Argieffoto (Foto: Vlad Vasnetsov/Pixabay)

Die vier Suid-Afrikaanse spanne wat in die Verenigde Rugbykampioenkappe speel, kan in hul tweede seisoen weer hul man behoorlik staan.

Trouens, nadat die Stormers verlede seisoen in die eerste groeipynjaar die reeks gewen het nadat hulle die Bulls in die eindstryd geklop het, en die Sharks ook in die uitspeelwedstryde betrokke was, behoort dié drie SA spanne weer tussen die topagt te eindig.

ʼn Vraagstuk hang steeds oor die Lions, wat Saterdag skaflik teen die Bulls gevaar het, hoewel hulle op Ellispark verloor het.

Verlede seisoen het die Suid-Afrikaanse spanne nie geweet wat om te verwag nie en is hulle veral in wegwedstyde in vreemde toestande onkant betrap.

Maar namate die seisoen gevorder het en plaaslike spelers by die oorsese toestande en die vertolking van die reëls deur die Europese skeidsregters aangepas het, was die skoen aan die ander voet.

Benewens Leinster en Ulster, kon nie een van die oorsese spanne op gelyke vlak met die fisieke plaaslike spanne meeding nie.

Geoordeel aan die naweek se openingswedstryde in die reeks, sal daar oorsee hoë eise gestel word, maar kom ons wees eerlik, die oorsese spanne gaan ook sukkel om in Suid-Afrika die mas op te kom.

Daarvoor het die Bulls, Stormers en Sharks te veel spierkrag en genoeg vaardighede agterlangs om die septer te kan swaai.

Kyk maar hoe die Springbokke hul teenstanders in die skrums verfomfaai, kyk maar hoeveel rolmale kan behoorlik gestuit word, kyk maar of daar om besit meegeding kan word.

Die Springbokke sal wel ʼn groot deel van die reeks misloop vanweë die jaareindtoer en omdat die spelers behoorlike ruskans moet kry, maar die Suid-Afrikaners het reeds daarby aangepas en genoeg talent ontwikkel om soomloos daarby in te skakel.

Die plaaslike breiers, John Dobson (Stormers), Jake White (Bulls), Sean Everitt (Sharks) en Ivan van Rooyen (Lions) is ook wyser en gryser en hulle het die kuns om hul groepe reg te bestuur en die spelers genoeg ruskanse te gee, bemeester.

Ja, daar gaan nuwe eise gestel word omdat die spanne ook later in die Europese Kampioenebeker- en Uitdaagreeks gaan speel waar hulle ook teen beste spanne van Engeland en Franse rugby gaan meeding, maar daar is genoeg talent in die spens om die room af te skep.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Republikein in die Wes Kaap ·

Daar is groter probleme in die land as die VRK.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.