Wallis op hul hoede vir Esterhuizen, sê Biggar

Wallis se Dan Biggar. Foto: Phill Magako/AFP.

Dan Biggar, Wallis se kaptein op hul Suid-Afrikaanse safari, glo nie dat dit ’n afgewaterde Springbok-span sal wees wat op die Rooi Drake in Bloemfontein wag nie.

Inteendeel verwag hy selfs ’n kwaaier aanslag.

Jacques Nienaber het Dinsdag vriend en vyand verras toe daar 14 veranderinge aangebring is in die beginspan wat op Loftus Versfeld diens gedoen het.

Evan Roos, Kurt-Lee Arendse, Marcell Coetzee en André Esterhuizen is van die opwindendste veranderinge, terwyl iemand soos Deon Fourie ook al lank vir sy kans in die Springbok-trui wag.

“Ek glo nie vir een oomblik dat die Springbokke oneerbiedig met hul spankeuse opgetree het nie,” het Biggar gesê.

“As jy na die spelers kyk wat hulle vir hierdie naweek gekies het, wil jy amper sê dat hulle tans die spelers met die beste spelpeil is. Terselfdertyd dink ek dat hulle dalk ’n bietjie skerper kan wees omdat hulle meer rugby agter die blad het.”

André Esterhuizen. Foto: Marco Longari/AFP.

Hy het veral vir Esterhuizen as een van die moontlike gevaarmanne uitgesonder.

Die 28-jarige senter het ’n barshou vir Harlequins in Engeland gespeel en hy is onder meer deur die Rugby Players’ Association (RPA) vereer toe hy as die spelers se speler van die jaar aangewys is.

“Hul binnesenter is byvoorbeeld een van die beste spelers in die Engelse Premierskap. Die Springbokke het nou ’n Wêreldbeker-wenner en ’n briljante speler in Damian de Allende uit die vyftiental gelaat en die verswak geensins hul span nie.”

Volgens Biggar weet die Rooi Drake wat om van spelers soos Cheslin Kolbe, Lukhanyo Am en Makazole Mapimpi te verwag; maar die nuwe kombinasies sorg vir ’n bietjie meer onsekerheid.

“Maar wanneer ek na hierdie spanlys kyk, verwag ek niks minder as ’n taai wedstryd nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

piet ·

Hy was al en het ons ‘n toets teen Engeland gekos toe hy ‘n speler laat geloop het in beseringstyd. Strafskoppie en Engeland wen. Die geheues is kort.

piet ·

Baie maklik om hierdien ou hok te slaan want jy weet wat hy gaan doen. Stormram, net sorg jou verdediging is op standaard.

N ·

As dit so maklik is, hoe is hy as speler van die reeks in Europa gekies?

piet ·

Klubrugby is nie toetsrugby nie. Tensy sy spelstyl intussen verander het, kan jy maar weer stampkar rugby verwag van hom. So terloops hy was nie speler van die jaar in die Engelse Premier liga nie, seker van sy klub.

SjN ·

Goeie spankeuse, hoop die Jonger spelers bewys die ou Manne met sogenaamde ondervinding wat uitgelaat is dat hul nie onmisbaar is nie.

Jr ·

Biggar se poging om sy manne op te sweep om onder die Springbokke se vel te kom het op hom gebackfire. Kyk al die geel kaarte.
Jy :waar is Biggar op die veld
Ek : Kyk net waar’s die ref dan is Biggar daar besig om te huil oor wat die bokke doen. Mnr, mnr kyk daar!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.