Rooi Drake tem Bokke in Bloemfontein

André Esterhuizen op die oorlogpad. Foto: GB Jordaan.

O wee, Wallis het vir die eerste keer in ’n hele paar probeerslae as die oorwinnaars van ’n rugbyveld in Suid-Afrika gestap.

Dit was een van daardie toetse waar ’n mens nie eintlik weet waar alles verkeerd geloop het nie. Die meeste plaaslike rugbyondersteuners was opgewonde oor die spankeuse; avontuurlustige spelers het ’n kans in die Springbok-trui gekry; en dinge het met tye nie só sleg op die speelveld gelyk nie.

Maar toe Josh Adams in die doodsnikke oorgeduik het en Gareth Anscombe met sy koel-soos-ʼn-komkommer-doelskop die bal oor die dwarslat gejaag het, was die skrif aan die muur: Die Rooi Drake het met 13 – 12 gewen en staan boonop nou die kans om die reeks volgende naweek in die Kaap te beklink.

Maar kom ons begin by die begin.

Net soos in die eerste toets op Loftus Versfeld, het Wallis vandag ook eerste punte (danksy ’n Dan Biggar-strafskop) aangeteken.

Evan Roos. Foto: GB Jordaan .

Goeie werk deur Kurt-Lee Arendse en Evan Roos het daarna gesorg dat die tuisspan in die besoekers se gebied begin speel het. ’n Rukkie later het Handré Pollard se skopvoet die Bokke se eerste punte aangeteken.

Ja, die rustydtelling was ’n ietwat teleurstellende 3-elk, maar die Suid-Afrikaners het algaande die septer in die skrumsituasie begin swaai terwyl hul sterk verdediging vir Wallis in toom gehou het.

Impakspelers soos Malcolm Marx en Deon Fourie is vroeg in die tweede helfte ingespan en het amper onmiddellik hul teenwoordigheid laat geld.

Marx het met ’n stewige lopie veldgebied gewen, terwyl die 35-jarige Fourie sy Springbok-buiging met sy gebruiklike afbreekpunt-heldedaad gevier het.

Maar hoewel die tuisspan geleenthede gehad het om die wedstryd te beklink, het hulle dit beslis nie benut nie.

Pollard het skeefgekorrel en foute het gesorg dat die agterlyn (wat so gevaarlik op papier gelyk het) nooit werklik aan die gang kon kom nie.

Dit was ’n wedstryd wat soveel belofte getoon het. Maar uiteindelik was dit ’n teleurstelling vir die Springbokke.

Die vraag is net – lê die fout slegs by die spelers of moet die afrigterspan ook hand in eie boesem steek?

  • Puntemakers:

Wallis: Drie: Josh Adams. Doelskop: Gareth Anscombe. Strafskoppe: Dan Biggar, Gareth Anscombe.

Springbokke: Strafskoppe: Handré Pollard (4).

  • Die Springbokke het die eerste toets met 32 – 29 in Pretoria gewen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

piet ·

Ek het dit verwag, swakker span gewees. Ongelukkig het geeneen van die “nuwe sterre” getoon dat hul plekke verdien bo die spelers wat in die eerste toets gespeel het nie. Pollard sal Saterdag speel (as hy fiks is) en miskien sal PSDT ook inkom (nog nie oortuig of hy al op sy beste sal wees nie) en dis dit. Roos, Hendrikse en Arendse was heel skaflik en is spelers wat goed kan vaar met meer toetsondervinding. Ek dink na Saterdag het ‘n paar ogies oopgegaan soos byvoorbeeld om nie te dink om sommer te gou-gou van ervare spelers soos Willie Roux ontslae te raak nie. Hierdie Bok-span gaan ‘n proleem he as spelers soos Etzebeth en Pollard nie beskikbaar is nie. Hoop nie een van hulle raak beseer nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.