WB-toernooi: Engeland luier-luier teen Samoa

Engeland se Jonny May tydens die Wêreldbekerwedstryd teen Samoa (7 Oktober 2023) (Foto: Miguel Medina/AFP)

Die Engelse rugbyspan het ʼn besluit geneem dat alkohol taboe tydens die Wêreldbekertoernooi sal wees, maar niemand het iets oor hul ondersteuners gesê nie.

Niemand sou die Engelse Saterdagaand in Lille kwalik geneem het as hulle ʼn hele paar stywe enetjies met eish bestel het nie, want die Engelse was nog nooit só na aan verloor teen Samoa nie.

Engeland het met 18-17 deurgeskraap nadat hulle rustyd met 8-14 agter was.

Inteendeel, Samoa, wat verdien het om te wen, was met ʼn raps meer as tien minute nog voor, maar ʼn onbesonge geelkaart aan die senter Tumua Manu nadat hy die Engelse heelagter, Freddie Steward, ná ʼn hoë skop in die lug geduik het, het die deur vir die Engelse oopgelaat om hul negende agtereenvolgende oorwinning oor Samoa te behaal.

Dink net daaraan hoe die Engelse rugbyskrywers die Engelse span en die afrigter, Steve Borthwick, sou gelooi het as hulle teen ’n piepklein-eilandjie verloor het.

Die Engelse moet baie dankie aan die veteraan plaasvervanger-skrumskakel, Danny Care, sê. Hy het die Engelse van rooi gesigte gespaar toe hy ʼn drie ná ʼn rits skrums op Samoa se doellyn gedruk het.

Hy het ook ʼn byna sekere drie kort voor die einde met ʼn laaste duikslag gekeer.

Engeland se probleem is dat Borthwick met die hande in die hare sit, want hy is nie seker watter spelers sy voorkeurspelers in die opdrafspan moet wees nie en ook nie watter spelers die bank moet warm hou nie.

Ook moet hy die keuse tussen Owen Farrell en George Ford op losskakel maak.

Samoa het die Engelse ore aangesit.

Hulle het volgens Wêreldrugby die bal meer gedra (452 meter teenoor 404), hulle het die bal meer aan- en uitgegee (135 teenoor 105 keer) en hulle moes minder duikslae uitvoer.

Die oud- All Black-losskakel Lima Sopoaga, wat as Speler van die Wedstryd aangewys is, was briljant. Hy het gebreek, geskop, geduik en sy agterlyn op volle vaart weggestuur.

Dan was die vleuel Nigel Ah-Wong ook vuurwarm, terwyl Fritz Lee, Michael Alaalatoa en Steven Lutua voorlangs verwoestend was.

Vir Engeland was Johnny May gevaarlik, terwyl Farrell in die kollig was.

Farrell het, toe hy ʼn strafdoel in die 18de minuut oorgeklits het, Johnny Wilkinson se Engelse rekord van 1 179 toetspunte verbygesteek.

Farrell staan nou op 1 186 punte.

Maar daar was ook ʼn klad op sy naam toe hy die eerste speler in ʼn Wêreldbekertoernooi geword het wat te lank gedraai het met ʼn strafskop en dit gekanselleer is (nadat dit oor was).

Die pad vorentoe vir Engeland lyk maar vaal, hoewel hulle nou in die kwarteindronde speel en na alle waarskynlik die halfeindronde sal haal.

Maar daarna?

Puntemakers: Engeland 18 (8): Drieë: Ollie Chessum, Danny Care. Doelskop: Owen Farrell. Strafdoele: Farrel (2).

Samoa 17 (14): Drieë: Nigel Ah-Wong (2). Doelskoppe: Lima Sopoaga (2). Strafdoel: Sopoaga.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Niklaas ·

Dalks was Engeland net heeltemal oorgerus voor die wedstryd , maar hulle het lanklaas so voortgeploeter soos wat almal moes aanskou . Na die geelkaart aan Samoa , het die Rose eers bietjie lewe begin toon , maar ook nie teveel nie. Hul was naby aan verloor gewees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.