Wees versigtig vir Franse WB-flair

Vlok Cilliers was deel van die Franse groep wat vanjaar die Sesnasiesreeks gewen het. Foto: Verskaf.

Frankryk speel volgende jaar gasheer vir die Wêreldbeker-rugbytoernooi en ʼn mens het so ʼn spesmaas dat die versreëls van “La Marseillaise” ook in volle bors voor die eindstryd gesing kan word.

Want goeiste, die Hane pronk deesdae behoorlik op die internasionale rugbyverhoog.

Die Fransmanne is die verdedigende Sesnasieskampioen, hulle is die naasbeste span op Wêreldrugby se punteleer en Cheslin Kolbe meen dat hulle een van die gunstelinge is om die Webb Ellis-trofee omhoog te hou.

Vlok Cilliers is Frankryk se skopafrigter en hy glo dat die huidige Franse span een van die talentvolste nóg is, terwyl Antoine Dupont ongetwyfeld ʼn rugbykrag is waarmee daar rekening gehou moet word.

Die 25-jarige skrumskakel is verlede jaar as Wêreldrugby se speler van die jaar aangewys en die Hane maak beslis op hom staat om die nodige vonk te verskaf.

Die Springbokke sal dus op hul hoede moet wees – nie net ter verdediging van hul Wêreldbeker-titel nie, maar ook wanneer hulle in November teen die Franse in Marseille speel.

“Dupont en kie het al in die verlede gewys dat hulle oor die vermoë beskik om druk baie goed te hanteer. Die span is natuurlik opgewonde om teen die Springbokke te speel; hulle is immers die wêreldkampioen,” het Cilliers tydens die Tekkies-en-Toks-aand by Hoërskool Eldoraigne gesê.

Die Suid-Afrikaanse skopmeester het al vantevore gesê dat hy beïndruk is met die jong no. 9-speler se vaardighede.

Antoine Dupont. Foto: Franck Fife/AFP.

“Antoine is werklik goed, hy is ’n speler van wêreldgehalte met ongelooflike werksetiek. Terselfdertyd is hy ook nederig en ’n baie goeie leier. Ek het al baie talentvolle spelers in my lewe afgerig, maar nog niemand soos hy nie. Soos die Engelsman sou sê: Hy is die complete package.”

Volgens Cilliers het die keerpunt vir die Franse ná die 2019-Wêreldbeker in Japan gekom.

“Die span het toe bymekaar gekom en dinge soos dissipline en bestendigheid aangespreek. Hulle kan dit byvoorbeeld nie bekostig om die een week met die All Blacks af te reken en die volgende week teen Kanada vas te val nie.”

“Ons is nog nie heeltemal waar ons wil wees nie, maar ons is beslis op die regte pad.”

  • Groepe vir die 2023-Wêreldbeker:

Groep A: Nieu-Seeland, Frankryk, Italië, Uruguay en Namibië

Groep B: Suid-Afrika, Ierland, Skotland, Tonga en Roemenië

Groep C: Wallis, Australië, Fidji, Georgië en kwalifiserende span

Groep D: Engeland, Japan, Argentinië, Samoa en Chili.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

JohanR ·

Dink SA sal bietjie kan spog as hulle Oct/Nov met Frankryk, Ierland en Engeland afreken. Maar soos Hansie Cronje altyd gese het…..you pick your best available team for EVERY match. SA se span moet van 1-15 die beste in hulle posisies wees, en net soe met 16-23.

Jakkie ·

Frankryk het n goeie span. My vraag is of hulle kan opdaag vir drie goeie wedstryde opeenvolgens, kwarteind, semi en finaal…..ek twyfel…..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.