Welkome besluit van Sanzaar oor skeidsregteraanstellings

Jaco Peyper – blaas op Ellispark (Foto: Facebook SA Rugby)

ʼn Skeidsregter sal maar altyd in die spervuur wees en as rede vir spanne se neerlae verantwoordelik gehou word.

Week ná week lees of hoor ʼn mens die kommentaar: “As hý my span se Superwedstryd blaas, het ons nie ʼn kans nie. Hy is teen ons.”

Die week daarop kom dit dan weer van verlede week se wenspan wat in sy volgende wedstryd verloor en dieselfde fluitjieblaser met naastenby dieselfde kommentaar uitkryt.

Hoeveel van die leuenstoelkritici bevoeg is om oordeel oor die ingewikkelde reëls te vel, is ʼn ope vraag. Daarom is dit ʼn baie sinvolle en welkome besluit dat Sanzaar die afrigters van al die Superspanne geraadpleeg het oor wie die beste skeidsregters in vanjaar se reeks was en dat die aanstellings op grond van hul insette gedoen is.

Daar kan min twyfel wees dat die beste vier aangestel is vir die naweek se kwarteindstryde. Natuurlik sal van die Lions se ondersteuners kla oor die aanstelling van Jaco Peyper vir die kwarteindstryd teen die Jaguares op Ellispark (Saterdag 15:05). Want het hy dan nie in verlede jaar se eindstryd vir Kwagga Smith met ʼn rooikaart afgestuur nie, sal sommiges seker vra.

Dat Peyper wêreldwyd as een van die heel voorste blasers beskou word, en dat sy en die ander voorste skeidsregters se vertonings nie net in Suid-Afrika nie, maar ook deur Sanzaar en Wêreldrugby se skeidsregterbase beoordeel en gegradeer word, is nie vir hulle goed genoeg nie.

Ja, Peyper en die ander sal dalk almal ʼn fout of twee maak. Soos die spelers ook. Maar kyk ʼn bietjie oor hoeveel fasette en oortredings die blaser moet beslis oor die aantal kere wanneer ʼn haker byvoorbeeld by die lynstane ingooi of hoe ʼn losskakel die bal hanteer en/of skop. Hy moet kyk na hoeveel skrums daar is wat wél ineenstort, na die beslissings oor onkantspel en ander dinge by afbreekpunte. Daar is hanteringsfoute en dies meer …

Die skeidsregter is by elk van hierdie en vele meer betrokke.

Nieu-Seeland lewer twee van die vier blasers, Glen Jackson en Mike Fraser, wat onderskeidelik die Hurricanes teen die Chiefs (Vrydag 09:35 in Wellington) en die Crusaders teen die Sharks (Saterdag 09:35 in Christchurch) blaas; en Australië se Angus Gardner is aangestel om die wedstryd tussen die Waratahs en die Highlanders in Sydney te beheer (Saterdag).

Kwarteindstryde se wedstrydbeamptes ‒

Vrydag:
Hurricanes vs Chiefs
Skeidsregter: Glen Jackson
Assistentskeidsregters: Nick Briant, Paul Williams.
TV-skeidsregter: Glenn Newman

Saterdag:
Crusaders vs Sharks
Skeidsregter: Mike Fraser
Assistentskeidsregters: Ben O’Keeffe, Brendon Pickerill
TV-skeidsregter: Shane McDermott

Waratahs vs Highlanders
Skeidsregter: Angus Gardner
Assistentskeidsregters: Nic Berry, Will Houston.
TV-skeidsregter: George Ayoub

Lions vs Jaguares
Skeidsregter: Jaco Peyper
Assistentskeidsregters: Marius van der Westhuizen, Egon Seconds
TV-skeidsregter: Marius Jonker

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Lol ·

Bitter onregverdig van Lions om oor Peyper te kla, hy help hulle al jare lank.

Vraagteken ·

Wat het geword van die neutrale skeidsregters? Dit sal mos baie van die probleme oplos?

nico k ·

Ek het nie ‘n probleem met skeidsregters nie. My probleem is die reëls wat te tegnies is. Dit is oop vir interpretasie en heeltemal te moeilik vir ‘n speler om nie te oortree nie. (Soos as ‘n speler vassit in ‘n losgemaal, dan word hy gestraf. Belaglik,) Tennis en sokker is gewilde sporte omdat hulle maklik is om te volg. Die reëls maak rugby dood.

Pierre ·

Ons het die punt bereik dat nie die spelers, die afrigters, die skeidsregters of die toeskouers die reels ken of verstaan nie. Hoog tyd dat reels vereenvoudig word.

Pieter ·

Net jammer die skeidsregter en sy lynmanne kyk mis wanneer die hakker male sonder tal in n lynstaan die bal vir die skrumskakel gooi!

Joe Hall ·

Sjoe! Hoe is dit moontlik dat Marius van der Westhuizen homself steeds in die omgewing bevind???

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.