Wêreldbeker: D-dag is hier vir Bokke

Siya Kolisi, Steven Kitshoff, Malcolm Marx en Frans Malherbe. (Foto: Twitter/Springbokke)

Dit is 1 408 dae sedert Siya Kolisi die Webb Ellis-trofee in Jokohama omhoog gehou het. Vandag, 10 September 2023, is die amptelike begin van die Springbokke se veldtog om hul wêreldtitel te verdedig.

Die Suid-Afrikaners speel vanmiddag teen Skotland in hul eerste wedstryd van die 2023-Wêreldbekertoernooi in Marseille.

Laat ons nie doekies omdraai nie: Die Bokke is in ʼn taai groep. Benewens die Skotse uitdaging sal hulle ook teen Ierland, ʼn onvoorspelbare Tonga-span en Roemenië in Groep B moet kragte meet.

Wen Kolisi-hulle die groep, sal hulle waarskynlik teen die All Blacks in die kwarteindstryd moet kragte meet. Eindig hulle tweede, wag Frankryk vir hulle.

Gʼn wonder ʼn paar van die spelers het al die Skotland-wedstryd met ʼn wafferse eindstryd vergelyk nie.

Die sending is eintlik eenvoudig – staan jou man teen die beste spanne ter wêreld en wen elke wedstryd.

“Daar is reeds baie geskryf en gesê oor die groep waarin ons onsself bevind; maar as ons die Wêreldbeker wil wen sal ons in elk geval met die beste spanne moet afreken. Skotland is ʼn goeie voorsmakie van dit wat op ons wag,” het Kolisi in aanloop tot die Skotse tweestryd gesê.

Die Skotte is ook oorgehaal om hul openingswedstryd te wen.

Frankryk se Antoine Dupont probeer om vir Duhan van der Merwe plat te trek. (Foto: Jeff Pachoud/AFP)

Spelers soos Duhan van der Merwe, WP Nel en Pierre Schoeman is vertroud met Suid-Afrikaanse rugby en daar is kenners wat meen dat hul kennis tot die doedelsakbrekers se voordeel strek.

Maar om eerlik te wees, teorie help jou nie veel wanneer jy in die praktiese eksamen sukkel nie.

Skotland kon Suid-Afrika ook nog nooit in ʼn Wêreldbeker-wedstryd klop nie. Die Springbokke was in 1999 met 46 – 29 baas op Murrayfield, terwyl hulle ook in 2015 die septer met hul oorwinning van 34 -16 in Newcastle geswaai het.

Tog lyk dit nie of Gregor Townsend en kie hulle juis veel aan die tikkie statistieke steur nie.

“Ons gaan probeer om Suid-Afrika nie vir een oomblik met rus te laat nie. Vir die afgelope paar weke het ons net daarop gekonsentreer om op ons heel beste vir die wedstryde in aanloop tot die toernooi te wees,” het die Skotland-afrigter bevestig.

Daarbenewens loop hul selfvertrouebeker oor, hulle hou daarvan om met die bal te hardloop en aanvallende rugby te speel. Amper soos die All Blacks.

Maar ná 80 minute se spel in Marseille kan die Bokke se voorspelers waarskynlik weer eens net te veel spierkrag vir hul teenstanders hê.

Kyk net wat het teen Nieu-Seeland op Twickenham gebeur.

Springbokke: Damian Willemse (heelagter), Kurt-Lee Arendse (regtervleuel), Jesse Kriel (buitesenter), Damian de Allende (binnesenter), Cheslin Kolbe (linkervleuel), Manie Libbok (losskakel), Faf de Klerk (skrumskakel), Jasper Wiese (agtsteman), Pieter-Steph du Toit (flank), Siya Kolisi (kaptein en flank), Franco Mostert (slot), Eben Etzebeth (slot), Frans Malherbe (stut), Malcolm Marx (haker) en Steven Kitshoff (stut). Plaasvervangers: Bongi Mbonambi, Ox Nche, Trevor Nyakane, RG Snyman, Marco van Staden, Duane Vermeulen, Grant Williams en Willie le Roux.

Skotland: Blair Kinghorn (heelagter), Darcy Graham (regtervleuel), Huw Jones (buitesenter), Sione Tuipulotu (binnesenter), Duhan van der Merwe (linkervleuel), Finn Russell (losskakel), Ben White (skrumskakel), Jack Dempsey (agtsteman), Rory Darge (flank), Jamie Ritchie (kaptein en flank), Grant Gilchrist (slot), Richie Gray (slot), Zander Fagerson (stut), George Turner (haker) en Pierre Schoeman (stut). Plaasvervangers: Dave Cherry, Jamie Bhatti, WP Nel, Scott Cummings, Matt Fagerson, Ali Price, Cameron Redpath en Ollie Smith.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Mnr De Beer ·

Weereens het Kaptein K gelyk of hy bak hand staan by die refs. Mbonambi praat darem met die refs en wys beter kapteinskap.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.