Wêreldbeker-rugbytoernooi sorg vir hope hoogtepunte

Die All Blacks se TJ Perenara het ’n juweeldrie teen Namibië gedruk. (Foto: Christophe Ena, AP)

In 1995 het die All Blacks Japan met 145 punte tydens ’n Wêreldbeker-wedstryd in Suid-Afrika gelóóí. Druk nou die versnelknoppie na 2019 en mens is nie heeltemal seker of selfs die magtige Nieu-Seelanders wéér met ’n soortgelyke vertoning teen die Japanners vorendag kan kom nie.

Want die Japan van 2019 – en selfs die Japan van 2015 – is ’n perd van ’n heeltemal anderste kleur en die soesji-brekers is besig om vir die meer tradisionele rugbyreuse tydens vanjaar se internasionale skouspeel op meer as een keer te wys waar Dawid die wortels gegrawe het.

Lappies Labuschagne se span het gister voor 45 000 geesdriftige ondersteuners amok teen Samoa in die Toyota-stadion gemaak. Die gasheerland het die wedstryd met 38-19 gewen om sodoende ’n reusetree nader aan hul kwarteindstryd-droom te gee.

Waar die meeste Mexikaanse golwe uit pure ontevrede frustrasie van stapel gestuur word, was die oorsprong van gister se golf pure jolyt nadat Kotaro Matsushima vir Japan se vierde én bonuspuntdrie deurgedraf het.

Japan vier vees nadat hulle hul bonuspuntdrie teen Samoa gedruk het. (Foto: Shuji Kajiyama, AP)

O ja, Matsushima se drie het in die 85ste minuut van die spel gekom!

Japan geniet dit om die bal lug te gee – die bal beweeg ongeveer 173 keer tussen hul spelers rond in ’n 2019-Wêreldbekerwedstryd – maar wanneer hulle met ’n rolmaalbeweging begin, kan jy maar weet dat selfs die agterspelers hul gewig gaan rondgooi.

Japan verdien om na die kwarteindronde van die toernooi deur te dring. Hulle maak dit lekker om rugby te kyk.

Puntemakers:

Japan: Drieë: Timothy Lafaele, Kazuki Himeno, Kenki Fukuoka, Kotaro Matsushima. Doelskoppe: Yu Tamura (3). Strafskoppe: Tamura (4).

Samoa: Drie: Henry Taefu. Doelskop: Taefu. Strafskoppe: Taefu (4).

  • So van lekkerkry gepraat – vandag se All Blacks/Namibië-kragmeting het ook vir ’n paar juweel-oomblikke gesorg.

Ja, die All Blacks het op ’n drafstap met 71-9 gewen, maar die Welwitschias het vroeg in die wedstryd met 3-0 voorgeloop. En dit is genoeg rede om ’n hele paar braaivleisvure in die buurland aan te steek!

Die Nieu-Seelanders se enjin het by tye gestotter – Nepo Laulala en Ofa Tuungafasi is vir gevaarlike duikslae koelkas toe gestuur – maar hulle het steeds 11 drieë gedruk.

Jou DStv-afstandbeheer se terugdraai-funksie is waarskynlik ontwerp met TJ Perenara se drie in gedagte.

Brad Weber se ongelooflike aangee (sommer so agter sy rug) is deur Perenara se akrobatiese duikslag oor die doellyn opgevolg. Werklik die kyk-weer werd.

Puntemakers:

Nieu-Seeland: Drieë: Sevu Reece (2), Anton Lienert-Brown (2). Ben Smith (2), Angus Ta’avao, Joe Moode, Sam Whitelock, Jordie Barrett en TJ Perenara. Doelskoppe: Jordie Barrett (8).

Namibië: Strafskoppe: Damian Stevens (3).

  • Uitslae van ander wedstryde:
  • Frankryk 23 – 21 Tonga
  • Engeland 39 – 10 Argentinië
  • Australië 45 – 10 Uruguay

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Honderd ·

Nou ja, waar is Vita wat gereken het All Blacks “sou 100 punte teen Namibie opgestapel het” ??????? Dit was mos die kommentaar na die Bokke vs Nam wedstryd. “Talk is cheap”.

Die Weber aangee na Perenara (50/50 vorentoe) en die Perenara drie (50/50 uit gewees) wys egter opnuut die argument onder verskeie mense dat die All Blacks meeste kere die voordeel kry uit 50/50 beslissings. Vir my was die aangee definitief vorentoe en die kantlyn beslissing kon enige kant toe gegaan het. Ja, dit sou geen verskil aan uitslag gemaak het nie, maar dit staaf bepaalde argumente.

Welgedaan Namibie, wat meerendeels uit amateur- of semi-professionele spelers bestaan. Jammer hulle kon nie naby aan einde ‘n welverdiende drie kry nie.

Frans C ·

Dit was mos nie die All Blacks se ‘A’-span wat gespeel het nie,want nie een van hul erkende losskakels of no 1 senter was in die span nie.Die wedstryd bewys dat hul oor genoeg reserwe spelers beskik om nog ‘n goeie span saam te stel en vas te stel of hul no 1 slot Brodie Retallick voldoende van sy besering herstel het.

Sy afrigter was blykbaar tevrede het hom vroeg vervang. Die Bokke het die voorspelers
om hul vas te vat maar beskik mi nie oor dieselfde gehalte agterspelers, daarvoor
is die spel te stereotiep en is dit net Kolbe wat vir kopsere vir die teenstanders besorg.

Dit is hoekom die Bokke teen die All Blacks vas geval het want hul het geweet het wat die Bokke gaan doen en twee foute vinnig uitgebuit het met twee drieë.

Derick ·

@ Honderd n voorstel:
As jy weer skrik skrik wakker.
Stel voor jy gaan sien a.s.a.p. n oogarts.
Hoekom bevraagteken julle altyd alles wat die AB doen.
Kom geniet rugby , jy sal met n ander oog na rugby kyk.
Daar was niks verkeerd met uitgee/aangee wat tot die 3 gelei het.
Die 3 was wettig.
Sou jy ook so te kere gegaan het as dit n bok 3 was?

Poot ·

@100
Beter kon ek dit nie stel nie. Raakgevat in ñ neute dop.

Vita ·

Ek moet bieg Nam het die 1 ste helfte baie goed gespeel, maat die 2 de helfte het die AB gewys hoe goed hulle is, was nou nie 100-0 nie maar dit was naby genoeg,

Poot ·

@Derick
Ek stel voor jy jy sien 100 se kommentaar in die lig van sy stelling. Dit gaan nie oor die vorentoe aangee nie…. dit gaan oor die SA’s AB ondersteuners wat so verwaand is….. waarvan jy een is. As JY skrik, skrik wakker. Die “magtige” AB kon nie die 100 tal kry soos wat julle in jul verwaandheid voorspel het nie. En dit teen ñ nie profesionele span.

Teveelreels ·

Die rugby sorg vir hoogtepunte, maar die skeidsregters sorg vir laagtepunte met al die rooikaarte!

jonathan ·

Die skeidregters doen hul werk vir die rooi kaarte, dis al die tackles wat zo hoog is wat die laagte punt is van al die spanne

Riaan ·

Dis nou nie asof die Flou Bokkies 100 talle opgestel het teen Namibie nie.
Hulle het wel teen die ALL BLACKS 23-13 verloor.
Sommige Bokkies ondersteuners wen mos nou al klaar die World Cup nadat hulle Italie gewen het van 14 man – wat n grap !!!

Suidwester ·

Kyk my span het nou wel verloor maar ons het ons beste probeer alhoewel almal geweet het ons gaan n pak kry.
Weet nie hoekom almal altyd teen die AB is nie.
Hulle is maar net baie goed.
Wat opvallend is, is dat almal dieselfde kleur tokse aan het. Van bo tot onder net swart.
Kyk maar ander spanne se tokse.
Hoe se hulle: “eendrag maak mag.”

Jonathan ·

Suidwester – Vat 5 my maat – jou span het baie goed gespeel en dit van n AB ondersteuner af julle het gewys moet nooit opgee maak nie saak wat telling is of gaan wees nie , mag jul wen teen Canada

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.