Wêreldrugby se ‘slapende reus’ kry gasheerstatus

Die Springbokke het in 2019 die Webb Ellis-trofee omhoog gehou. Foto: Odd Andersen/AFP. 

Wêreldrugby het gister die gasheerlande vir die volgende paar Wêreldbeker-toernooie aangekondig. En Suid-Afrika, ’n land wat reeds drie keer die Webb Ellis-trofee omhoog gehou het, tel nie onder een van hulle nie.

Ná volgende jaar se aksie in Frankryk sal Australië in 2027 en die VSA in 2031 die wêreld se voorste rugbyspanne op hul voorstoep verwelkom.

Baie Springbok-ondersteuners sal sekerlik kopkrap oor die rugbybase se besluit om die toernooi aan die Aussies toe te ken – veral wanneer Suid-Afrika laas in 1995 die internasionale skouspel aangebied het – maar dit was ’n slim skuif om gasheerstatus vir die Amerikaners te gee.

Die VSA is ongetwyfeld die slapende reus van wêreldrugby, veral wat finansiële krag én spelerspierkrag betref.

“Rugby in die VSA betree nou ’n nuwe era en ons sal hard werk om te verseker dat rugby se grootste skouspel as lanseerblad dien om ’n blywende, volhoubare en entoesiastiese platform vir die sport te skep,” het Ross Young, VSA Rugby se uitvoerende hoof, gesê.

Dit is die Amerikaners se droom dat daar teen 2031 ongeveer 450 000 rugbyspelers in die land sal wees en dat wedstryde van “kus tot kus” gespeel sal word.

Volgens oorsese mediaberigte het 25 stadions al vantevore aangedui dat hulle bereid is om rugbywedstryde aan te bied (dit sluit dan sokker- en Amerikaanse voetbalstadions in), terwyl daar ook ’n hernieude aanslag van stapel gestuur sal word om te verseker dat die nasionale span teen 2031 met van die bestes ter wêreld kan saamgesels.

“Wêreldrugby se besluit om die VSA as gasheerland aan te wys is ’n getuigskrif van ons ongelooflike stede en stadions, die toewyding van die Amerikaanse rugbygemeenskap en ons ongeëwenaarde vermoë om sportbyeenkomste van wêreldgehalte aan te bied,” het Jim Brown gesê.

Brown was aan die stuur van die VSA se voorleggingspan en met kenmerkende Amerikaanse selfvertroue het hy die hoop uitgespreek dat die 2031-toernooi die maatstaf sal wees waarteen toekomstige gasheerlande hulself meet.

  • Komende Wêreldbeker-toernooie:

Mans: Australië (2027) en die VSA (2031).

Vroue: Engeland (2025), Australië (2029) en Australië (2033).

  • Die eindstryd van die 2023-Wêreldbekertoernooi in Frankryk word op 28 Oktober in die ikoniese Stade de France beslis.

Volgens beroepswedders is Frankryk die gunstelingspan om volgende jaar die Webb Ellis-trofee omhoog te hou.

“Frankryk het ’n goeie kans in die Wêreldbeker; ons is besig om ’n spesiale span te skep. Natuurlik is daar ander spanne wat ook aanspraakmakers is, maar die Franse het ’n talentvolle groep spelers en hulle is op die regte pad,” het Vlok Cilliers, die Fransmanne se skopafrigter, in ’n onderhoud met Maroela Media gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Waarnemer ·

Beste wense Amerija en BOOO Australie,julle het julle beurt gehad.

piet ·

Geld praat. Vir dieselfde rede as ons word Nieu-Seeland ook nou misgekyk. Eintlik jammer dat jou tradisionele 2 sterkste spanne in rugby nie meer kwalifiseer nie.

Hennie Biebouw ·

Bill & kie moet seker die arme Ozzies vergoed vir hul steun in sy verkiesing tot Wêreldrugby se grootkop. Jy kan die volgende 10 RWB’s in Australië hou, dit sal steeds nie help om die stadions daar vol te maak nie. Selfs die NFL is meer gewild in Australië as “Rugby Union”, waar Australian Rules Football by verre die gewildste sport bly.

Clifford ·

Wel ons kan nie veel kla oor ons nie die rugby aanbied nie, hoe moes die res van Wereld gevoel het oor die 2010 Sokker wereldbeker.

Dit is dielfde scenario as Amerika wat die rugby wereldbeker gaan aanbied.

Porseleintjie ·

Mense leef asof die wereld vir ewig gaan bestaan. 2031 terwyl hulle nie eers weet of die son more gaan opkom nie.

MakersMark ·

Geen regdenkende sport organisasie sal so groot toernooi in SA aanbied nie. Beurtkrag, misdaad en vervalle infrastruktuur sal maak vir ‘n baie swak toernooi. Hou maar by eerste wêreld lande.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.