Wie se koppe is reg: die Britse en Ierse Leeus of die Bokke?

Warren Gatland. (Foto: Adrian DENNIS/AFP)

Die komende toetsreeks tussen die Springbokke en die Britse en Ierse Leeus kan baie maklik van die veld af gewen word.

Die onsekerheid oor ʼn onsekere toer van sewe wedstryde wat drie toetswedstryde insluit gaan baie hoë eise aan albei spanne stel en die span met die grootste kopsterkte gaan anderkant heel daar uitkom.

Die toerspan span van 37 lede is reeds Donderdag aangewys, maar die finale toerprogram, waar die spelers in watter bio-borrel sal tuisgaan en speel, sal eers volgende week vasgeknoop word.

Uit die span wat die afrigter Warren Gatland gekies het, is dit duidelik dat hy fisiek met die Springbokke wil meeding.

Dis hoekom die vurige Engelse slot/flank Courtney Lawes uit die bloute nadergetrek is. Hy moet dien as weerligafleier vir Pieter-Steph du Toit en sal ʼn soortgelyke rol vertolk as wat Roger Uttley in 1974 vir die Leeus vertolk het.

Dis hoekom daar nie plek was vir die brose Ierse losskakel Johnny Sexton nie, want Gatland weet dat hy in die visier sou wees.

Daar sal nie wegkruipplek wees nie, met die twee waarskynlike toetsskrumskakels, Conor Murray (Leeus) en Faf de Klerk (Springbokke), wat die bal voor die voorspelers sal hou, waarna daar gemaal, gedryf, gerolmaal en geskrum sal word.

Oorheers voor, duik die nerwe van die teenstanders agter die voordeellyn af, sorg dat jou dissipline ekstra-perfeksie is.

Daar is ʼn fyn balans tussen die vier tuisunies: 11 spelers van Engeland, tien van Wallis en agt elk van Ierland en Skotland.

Die kanse dat daar dus klieks gevorm kan word, is skraler as in die verlede, toe veral van die Engelse spelers soms rammetjie-uitnek geraak het.

Gatland se vertoningslys as Walliese afrigter sedert 2008 lees soos volg: 151 toetse, 85 gewen met ʼn wenpersentasie van 56%.

In die Sesnasies is dit 42 oorwinnings uit 71 wedstryde vir ʼn wenpersentasie van 60%.

In sy laaste sewe toetse teen die Springbokke was Wallis vyf keer aan die wenkant.

Wat baie interessant is, is dat nie een van die suksesvolste afrigters van die Britse en Ierse Leeus, Engelse was nie.

Dié eer kom Carwyn James (Wallis, 1971), Syd Millar (Ier, 1974), Ian McGeechan (Skot, 1997) en Gatland (Wallis, 2013 en 2018) toe.

Die toer van sewe wedstryde gaan waarskynlik net in Kaapstad en Johannesburg beslis word. Dit sal die magdom reëlings om die Covid-19-pandemie die hoof te bied, vergemaklik.

Maar dis waar die raakvat van die veld af moet plaasvind, waar die spelers vir sewe weke lank ingehok gaan wees: geen besoeke aan die Krugerwildtuin of Victoria-waterval in Zimbabwe nie, geen wynplaas in die Boland nie, geen jaguitstappies nie, geen wedstryde in Windhoek, Wellington of Upington nie, geen besoek aan Robbeneiland, die Cullinan-diamantmyn, Lichtenburg se graansilo’s of die diepste goudmyn aan die Wes-Rand nie.

Dis waar spangees gebou of gebreek word, waar bordspeletjies, karoake-aande, hofsittings, tafeltennis, snoeker en videospeletjies die lot van die toer kan bepaal.

Sewe weke in ʼn bio-borrel is ʼn baie lang tyd.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.