Skilpad-Proteas moet haastiger wees in Durban

Rassie van der Dussen het 93 op debuut geslaan. Die Proteakolwers het egter hopeloos te konserwatief gekolf. Foto: Cricinfo.

Dit is inderdaad so dat die agteros ook in die kraal kom, maar wanneer jy ’n mededingende telling in ’n eendagkrieketwedstryd wil opstapel, help dit beslis nie om met die wilgerlat te poer-poer nie.

Maar, sal die Proteas se kanniedoodondersteuners sê, die kolfblad die afgelope naweek in Port Elizabeth was aan die stadige kant en dit was waarskynlik beter om konserwatief te kolf.

Ja, in sommige gevalle is konserwatiwiteit die slimmer keuse – onthou julle die keer toe die Proteas met hul sogenaamde “dapperkrieket-strategie” vir Australië in die 2007 Wêreldbekertoernooi wou ontspoor? Dink ons was 27/5 ná ’n paar warrelwindboulbeurte en die halfeindstryd was basies binne die eerste halfuur ’n verlore stryd.

Maar wanneer jy ná 50 boulbeurte teen ’n effense flou Pakistan slegs 266 lopies opgestapel het met net twee paaltjies plat, dan moet jy begin selfondersoek instel. Veral as jy met ’n openingskolwer sit wat ’n honderdtal geslaan het én ’n nommerdriekolwer wat in sy debuutwedstryd 93 gemoker het.

Dán is ’n rapsie meer as vyf lopies per boulbeurt nie goed genoeg nie. En al het Pakistan eers in die laaste boulbeurt van die kragmeting die wenlopies geslaan, sou net tien ekstra lopies waarskynlik ’n beduidende verskil gemaak het.

Imran Tahir het 4.4 lopies per boulbeurt afgestaan, Foto: Twitter.

Die Proteas het ook ’n spankeusefout gemaak deur nie ’n ekstra draaier op St. George’s te kies nie. Die snelbouaanval van Duanne Olivier, Kagiso Rabada, Andile Phelukwayo en Dwaine Pretorius het gesamentlik 209 lopies teen 5.8 lopies per boulbeurt afgestaan. Daarteenoor het die draaispan van Imran Tahir en Reeza Hendricks slegs 4.3 lopies per boulbeurt afgestaan.

ʼn Mens kan jouself probeer flous deur te sê dat skaafwerk belangriker is as wen voor ’n wêreldbeker. Dit is egter moontlik om te skaaf én te wen – vra net vir Australië in 2003 en in 2007.

Vir môre se kitswedstryd is Dale Steyn en Quinton de Kock steeds nie beskikbaar nie en die Proteas het veral De Kock se vinnige kolfwerk in Port Elizabeth gemis.

Die blad in Durban – hoewel hy hoegenaamd nie meer die groen mamba van ouds is nie – behoort snelboulwerk meer van hulp te wees. Olivier en Rabada kan dus meer effektief wees; veral onder die ligte.

Die wedstryd begin om 13:00.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Frans C ·

My indruk van die Suid Afrikaanse kolwers was,dat hul vir ‘n plek in die span gespeel het
en nie vir die span nie.Die gevolg was dat Miller min tyd gegun is om homself in te speel.

‘n Kolwer moes toe eerder instede daarvan om groot eie tellings te jaag,sy paaltjie prys gegee het om vir Miller genoeg boulbeurte te laat om die telling na 300 te neem.

koos ·

Hashim is ‘n bitter goeie kolwer, maar hardloop te stadig. Ons kon sowat 10 – 12 lopies meer gehad het as hy vinniger kan hardloop. Rassie se debuut het sowat 20 balle gekos, en daaroor is ek ook nie spyt nie. Enige kolwer se eerste wedstryd vir sy land, eis sy tol. Hashim het hom baie daardeur gedra en gepraat. Met dit in gedagte, het geen ander kolwer tyd gehad nie. Ongelukkig was dit nou maar so. As ons Pakistan uitgeboul het vir minder lopies of as hulle uit balle geloop het, dan was die kolwers weer geprys. Ek vat eerder nou ‘n verloor as tydens die wereldbeker.
O ja, stof tot nadenke, van wanneer af peuter die Aussies met ‘n bal? Van laas jaar af toe hulle uitgevang was het hulle geval as krieket reus. Het dit ook in 2003 en 2007 nie dalk ook al gebeur nie?

Nico ·

Koos hulle is verlede jaar getrap deur Indië en as hulle so bly kolf gaan Pakistan hulke ook trap. Op hierdie trant is hulle ook goed op pad om soos al die vorige probeerslae hul tyd te mors om na Engeland te gaan vir fie wêreldbeker toernooi.

JohanC ·

Frans C- ek stem eenhonderd persent saam met jou kommentaar- dit was baie duidelik dat die topkolwers net belanggestel het in hulle honderdtal-met hierdie trapsuutjie kolfwerk gaan ons WEEREENS lelik uit die bus val en al wat die Proteas gaan terugbring vanaf die wereldbeker is hulle “choker maatjie”
En van ons sogenaamde toporde kolwers is daar maar min wat nog daar hoort-meeste van hulle was ondergemiddeld in die 3 toetse teen Pakistan en die boulers moes elke keer hulle agterente red.

Nico ·

Verskonings, verskonings, verskonings. Die 1ste 3 kolwers moes met die balle wat hulle ontvang het niks minder as 20 lopies meer aan geteken het nie. Verder lyk dit my die snelboulers word ook nou geprogrameer soos Rassie die rugbyspelers programeer. Kon Olivier en dikbek Faf nie sien opslagballe/kortbalke werk nie. Al die jare was die beste boulwerk op die einde streepballe. Kan hulle nie Fanie De Villiers kry om Olivier hiermee re help nie. Hy was immers een van die groot meesters van die streep bal op die einde van die beurt. SA krieket het met hierdie wedstryd ook gewys wat was die eintlike rede hoekom hulle die 1ste toets nie in PE of DBN wou speel nie. Dit was eenvoudig omdat hulle nie draaiboulwerk kan speel nie en dus veseker so die 1ste toets verloor het. Dit het niks met toeskouer getalle te doen gehad nie. Soos byna al die sedert her toetrede in internasionale krieket kan die kolwers nie draai speel nie en vertrou hulle toetaal en al nie hul eie draaiers nie.

PJ Dup ·

Almal kritiseer die kolwers, maar ons boulers was swak op die dag.

Frans C ·

Jy is reg en hul keuse het my verbaas.Tog reken ek met ‘n telling van 300+ het die Proteas ten spyte van swak boulwerk ‘n kans gestaan om die wedstryd te wen.

Waar Pakistan se kolwers op die vinnige baanblaaie nie die opslagballe kon baasraak nie,het hul dit op ‘n mak kolfblad gereeld grens toe geslaan en dit was mi die verskil.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.