Spar Proteas blom in Liverpool

Karla Pretorius is as die speler van die reeks aangewys. Foto: Internet.

Oumas vertel jou altyd hoe hulle in hul jonger dae “so lekker” blomme in die Verenigde Koninkryk gerangskik het. Om ’n lang storie kort te maak: die héle land was trots op hul rangskikking.

Die afgelope maand was daar egter wel ’n hele spul Proteas op wie die land trots kan wees. Die nasionale netbalspan het tydens die Vierhoekige Reeks wat Australië, Engeland en Nieu-Seeland ingesluit het, gewys dat hulle saam met die bestes kan gesels.

En dié Protea-ommeswaai kan voor die deur van hul nuwe afriger, Norma Plummer, gelê word.  Sedert die Aussie-legende deel van die Protea-opset geword het, het die span van krag tot krag gegaan.

Ná Sondag se laaste Liverpoolse kragmeting teen Nieu-Seeland se Silwer Varings is Plummer se lof deur die Kiwi-breier besing.

Die Proteas het met slegs twee doele (60-62) teen die Nieu-Seelanders verloor en die uiteinde van die kragmeting is eers ná twee rondes se bykomende tyd beslis.

“Plummer het wondere met die span verrig en wanneer die wêreldbeker Juliemaand hier begin, sal die Proteas beslis ’n krag wees waarmee daar rekening gehou moet word,” het Noeline Taurua (Kiwi-afrigter) gesê.

Buiten hul skitterprestasie teen Nieu-Seeland het die Proteas vir Engeland gewen, terwyl hulle die wêreld se nommereenspan – Australië – goed die skrik op die lyf gejaag het.

Teen die Britte het die Suid-Afrikaners koelkop gebly om ’n wipplankwedstryd 48-45 te wen.

Oud-Protea Vanes-Mari Proudfoot het omtrent “uit haar vel van trots gespring” toe sy die eindtelling gesien het.

’n Stil oomblik ná die Nieu-Seelandkragmeting. Foto: Facebook.

Sy is trots op die vordering wat die span gemaak het.

“Mens word nie oornag kampioen nie en dit verg jare lange voorbereiding, opoffering, harde werk en dissipline om jouself met die bestes te vergelyk. Suid-Afrika het ongetwyfeld die talent en die spelers om die beste ter wêreld te word.”

Gedurende die toernooi het die Proteas hul mees ervare span ooit op die baan gestoot; die 12 spelers het altesaam 568 toetswedstryde agter hul name gehad.

“Die huidige span is ongelooflik gekondisioneer en beskik oor emmersvol ervaring. As daar een span is wat die ding kan doen, dan is dit dié een. Die meeste spelers bou deesdae hul ervaring op in die buiteland. Lande soos Engeland, Australië en Nieu-Seeland het professionele ligas wat tot hul nasionale spanne se sukses bydra.”

“My grootste wens is om netbal as ’n beroep in Suid-Afrika te sien. ’n Dogtertjie moet vir haar ma kan sê sy wil ’n netbalspeler wees die dag wanneer sy groot is en die stelsels moet gereed wees om só ’n droom te verwesenlik. Hierdie Proteaspan van ons is juis besig om geskiedenis te maak.”

Die netbalwêreldbeker is 12-21 Julie in Liverpool en die Proteas se openingwedstryd is teen Jamaika.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

kolla ·

Dis goed om te sien. Nie lank gelede nie het Australie en NS nog met ons gemors.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.