Streepsuiker vir Osaka en Tsitsipas

Naomi Osaka is die derde beste speler op die wêreldrandglys. (Foto: Ed Jones/AFP)

Die drome van Naomi Osaka van Japan en die ongewilde Griek, Stefanos Tsitsipas, is vroeg Saterdagoggend (SA tyd) in New York in die derde ronde van die Amerikaanse Ope-tennistoernooi vernietig.

Osaka, die derde beste vrouespeler op die wêreldranglys, is met 5-7, 7-6 (7-2) deur die 18-jarige Kanadees Leylah Fernandez uitgeskakel, terwyl Tsitsipas met 6-3, 4-6, 7-6 (7-2), 0-6, 7-6 (7-5) deur die 18-jarige Spanjaard Carlos Alcaraz uitgeboender is.

Osaka het ná haar nederlaag gesê sy gaan weer ʼn blaaskans weg van die baan af neem in ʼn poging om haar gemoedstoestand te verbeter.

Sy het haar vroeër vanjaar aan die Franse Ope op Roland Garros in Parys onttrek nadat sy met haar geestesgesondheid gesukkel het.

Fernandez sal Maandag in die vierde ronde teen Angelique Kerber van Duitsland, wat in 2016 die Amerikaanse Ope-toernooi gewen het, te staan kom.

Tsitsipas, wat weer ʼn lang toiletpouse geneem het en uitgejou is nadat hy droë klere gaan aantrek het, het ná sy kragmeting gesê hy weet nie waaroor daar ongelukkigheid was nie, aangesien hy geen reël verbreek het nie.

Hy het daarop gewys dat spelers langer as die toegelate 25 sekondes tussen punte op die baan neem sonder dat daar teen hulle opgetree word.

Alcaraz, wat onlangs in die Franse Ope die jongste speler sedert Junie 1992 geword het wat die derde ronde kon haal, het weer gewys waarom hy as die nuwe Spaanse matador ná Rafael Nadal beskou kan word.

Alcaraz sal nou teen die Duitser Peter Gojowczyk te staan kom.

In die mansafdeling tree die Rus Danill Medvedev al hoe sterker na vore nadat hy nog ʼn Spanjaard, Pablo Andujar, met 6-0, 6-4, 6-3 van die baan gevee het. Medvedev kom nou teen die groot Britse hoop op ʼn wenkans, Dan Evans, te staan.

Die Argentyn Diego Schwartzman (11de gekeur) wat Suid-Afrika se Kevin Anderson in die tweede ronde geklop het, is ook stewig op koers nadat hy sy landgenoot Facundo Bagnis met 3-6, 6-0, 6-2, 6-2 oorrompel het.

Nog ʼn Rus, Andrey Rublev, kom teen die Amerikaner Frances Tiafoe te staan, met Felix Auger Aliassime, die 11de gekeurde Kanadees, wat teen die Spanjaard Roberto Bautista Agut te staan kom.

Novak Djokovic het ook ʼn maklike oorwinning oor die Nederlander Tallon Griekspoor behaal.

* In die vroue-afdeling was daar goeie oorwinnings deur Simona Halep van Roemenië, wat Elena Rybakina van Kazakstan met  6-7, 6-4, 6-3 geklop het, asook Garbine Muguruza van Spanje wat Victoria Azarenka van Belarus met 4-6, 6-3, 6-2 verslaan het.

Elise Mertens van België het Ons Jabeur van Tunisië met 5-7, 6-2, 6-3 uitgeskakel.

* Suid-Afrika vestig sy hoop Saterdag om middernag op Lloyd Harris wat in die derde ronde teen die Kanadees Denis Shapavalov te staan kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Tanja ·

Ag tog as ek ou Osaka se naam hoor dan raak ek ook some depresief

Anton ·

Tsitsipas is nie ongewild tussen enige van my vriende nie, inteendeel

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.