Vandag se sportnuus

Chris Woakes het onder die Aussie-kolwers baljaar. Foto: Cricinfo.

Krieket:

  • Daar sal Sondag op Lord’s ’n splinternuwe Wêreldbeker-kampioen gekroon word nadat Engeland gister in Birmingham vir Australië in die halfeindstryd geklop het.
  • Die Aussies het besluit om eerste te kolf, maar was vroeg in die moeilikheid toe Chris Woakes (3/20) en Jofra Archer (2/23) onder hul kolwers gemaai het.
  • Steve Smith (85) en Alex Carey (46) het gesorg dat die Australiërs darem meer as 200 lopies kon aanteken. Maar ’n teiken van 224 was nooit genoeg nie en Jason Roy (85) en Joe Root (49) het gesorg dat Engeland die wenlopies in die 33ste beurt geslaan het.
  • Eoin Morgan se span speel Sondag teen Nieu-Seeland op Lord’s. Die eerste aflewering sal om 11:30 afgestuur word.

Tennis:

  • Simona Halep en Serena Williams sal mekaar Saterdag in die Wimbledon-eindstryd pak nadat hulle hul halfeindstryde verspot maklik gewen het.
  • Williams het vir Barbora Strycova met 6-1 en 6-2 getroef, terwyl Halep ook vinnig met 6-1 en 6-3 met Elina Svitolina klaargespeel het.
  • In die manshalfeindstryde speel Roger Federer en Rafael Nadal in ’n watertandontmoeting vandag teen mekaar, terwyl Novak Djokovic teen Roberto Bautista Agut te staan kom.
  • Suid-Afrika se Raven Klaasen en sy dubbelspelspanmaat, Michael Venus, is gister deur Juan Sebastian Cabal en Robert Farah in die halfeindstryd uitgeskakel. Die eindtelling was 6-4, 6-7, 7-6 en 6-4 in Cabal-hulle se guns.
  • Die Suid-Afrikaanse vlag word nou deur Kgothatso Montjane, ’n rolstoel-tennisspeler, geswaai. Sy het na die halfeindstryd deurgedring.

Rugby:

  • Die Curriebeker begin vanaand in alle erns wanneer die Haaie Griekwas in Durban pak. Op môre se spyskaart speel die Lions teen die Pumas in Johannesburg, terwyl die Westelike Provinsie gasheer vir die Blou Bulle op Nuweland speel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Neels ·

Hoekom word nie melding gemaak van die NETBAL WERELDBEKER wat vannaand begin nie . Stel MM nie daarin belang nie , of weet julle nie daarvan nie .

Frans C ·

Die Aussies wonder seker nou nog of die besluit om eerste te kolf die regte een was.
Die blad was na ligte reën en betrokke lug vol lewe,maar was later amper hondmak en kon die Engelse die lopies gemaklik af kolf.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.