Vandag se sportnuus

Anrich Nortjé. Foto: Twitter.

Krieket:

  • Daar is ’n paar dinge wat dit lekker maak om krieket te kyk: ’n Kolwer wat ’n merkwaardige hou speel, ’n veldwerker wat die bal met een hand uit die lug pluk en dan ’n snelbouler wat teen vinniger as 150 km/h boul.

In gister se IPL-wedstryd tussen die Delhi Capitals en die Rajasthan Royals het Anrich Nortjé die vinnigste bal in die reeks se geskiedenis geboul.

Een van sy kartetse het vir Jos Buttler (22) teen 155,1 km/h skoongeboul, terwyl hy ook ’n bal teen 156,2 km/h afgestuur het.

Dale Steyn was die vorige rekordhouer – hy het destyds in die kleure van die Deccan Chargers ’n aflewering teen 154,5 km/h geboul.

“Ek het glad nie geweet dat ek ’n rekord verbeter het nie,” het Nortjé ná die wedstryd gesê.

Buttler het met ’n paar slim houe vorendag gekom en dit het waarskynlik die Suid-Afrikaners se bloeddruk opgejaag.

“Hy het ’n paar goeie houe gespeel en ek het van hulle glad nie verwag nie. Ek het egter deurgedruk en dit het gewerk!”

Snelbouler-legendes soos Ian Bishop en Brett Lee het vir Nortjé op sosiale media gelukgewens en danksy die Suid-Afrikaner se blitsige heldedade het die Delhi Capitals die kragmeting met 13 lopies gewen.

Rugby:

  • Duane Vermeulen is terug in die tuig as die kaptein van die Bulls vir die naweek se wedstryd teen die Cheetahs in Bloemfontein.

Die hardebaard-agtsteman het verlede week se wedstryd teen die Griekwas weens ’n kniebesering misgeloop.

Bulls: Gio Aplon (heelagter), David Kriel (regtervleuel), Cornal Hendricks (buitesenter), Clinton Swart (binnesenter), Jade Stighling (linkervleuel), Morné Steyn (losskakel), Embrose Papier (skrumskakel), Duane Vermeulen (kaptein en agtsteman), Arno Botha (flank), Marco van Staden (flank), Ruan Nortje (slot), Jason Jenkins (slot), Trevor Nyakane (stut), Johan Grobbelaar (haker) en Jacques van Rooyen (stut).  Plaasvervangers: Joe van Zyl, Gerhard Steenekamp, Mornay Smith, Sintu Manjezi, Nizaam Carr, Ivan van Zyl, Chris Smith en Stedman Gans.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.