Verenigde Rugbykampioenskap: Lions skitter… en verbrou toe byna

Spelers van die Zebre-rugbyspan tydens Vrydagaand se wedstryd in die Verenigde Rugbykampioenskap teen die Lions in Parma. (Foto: Twitter / United Rugby Championship)

Die Lions se rugbyspan kan ’n hele paar glasies skink op hul kragvertoning in die eerste helfte van Vrydagaand se wedstryd in die Verenigde Rugbykampioenskap teen Zebre in Parma, maar hulle sal die tweede helfte se rugbybabelas so gou as moontlik wil afskud.

Die Lions het met ’n groot gebrul weggespring en het rustyd reeds met 35-0 voorgeloop ná vyf skitterdrieë wat soms herinner het aan die goue jare onder Johan Ackermann en Swys de Bruin.

Hulle het die basiese beginsels baie goed uitgevoer, stewig geskrum, hul lynstaanbesit goed gebruik, gerolmaal dat dit klap terwyl die agterlyn reguit en met vaart en doelgerigtheid gehardloop het.

Toe die losskakel Jordan Hendrikse (wat puik vertoon het in die eerste helfte) die telling kort ná rustyd op 38-0 te staan gebring het, het die Lions, en sekerlik al hul ondersteuners, gedink dit was in die sakkie, maar soos die ou rugbywysheid lui, hulle het vergeet om dit toe te knoop.,

Zebre is nou nie juis een van die swaargewigte in Europese rugby nie, hoewel daar nege spelers was wat die een of tyd vir Italië gespeel het.

Die Lions se ou kwale het weer begin kop uitsteek, en hoewel die skeidsregter, Chris Busby, soms met ’n ander reëlboek in sy sak geblaas het, moes die vier drieë wat die tuisspan gedruk (een was ’n strafdrie) groot kommer by die Lions se afrigters gelaat het.

Die voorspelers se oorheersing was daarmee heen en al hoe meer foute het begin inkruip. Die agterlyn (wat al hoe minder besit ontvang het) se planne het opgedroog en die verdediging en dissipline het ook begin lol.

Wat wel vir die Lions belangrik is, is dat hulle vir 40 minute soos kampioene gespeel het en as hulle daarop kan voortbou, kan die seisoen nog sukses bring.

Maar om 26 onbeantwoorde punte teen Zebre af te staan, sal die waarskuligte laat flikker.

Net soos die Springbokke tam teen die Wallabies voorgekom het, was die Lions ook tam in die tweede helfte.

Punte: Lions 38 (35): Drieë: Jamba Ulengo, Burger Odendaal, Rabz Maxwane (2), Jaco Visagie. Doelskoppe: Jordan Hendrikse (5). Strafdoel: Hendrikse.

Zebre 26 (0): Drieë: Carlo Canna, strafdrie (7 punte), Tomasso Boni, Oilviero Fabiani. Doelskoppe: Canna (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

MakersMark ·

Maar wat het met die kolonie spannetjie in Italië gebeur ? Dog dis net die bulle wat daar skande maak……eina.

Smoothie ·

Kyk bietjie na die vier topspanne in die Carling Black Label Currycup van SA 2021. Kyk dan na die vier SA spanne wat deelneem in die Verenigde Rugbykampioenskap. Dit blyk, dat Rugbysake nie baie gesond in SA is nie of is dit SARU??!! Ek kan jou verseker meer vertel… .Dis dan verwagte, dat daar sulke sports in Italië met die eerste en tweede helfde van die tellings gemaak word. Hou die reeks dop en SA rugby.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.