Verstappen laat die rekords spat

Max Verstappen. Foto: Christian Bruna/AFP.

Het ’n nuwe era in Formule Een aangebreek?

Dit is die vraag op almal se lippe nadat Max Verstappen Sondag in Japan sy tweede agtereenvolgende F1-titel ingepalm het.

Die laaste dekade is deur Lewis Hamilton oorheers en die Brit het vanaf 2014 tot 2020 net een jaar nie die kampioenskap gewen nie. Dit was in 2016 toe sy spanmaat Nico Rosberg baas was.

Verlede jaar het Verstappen die kroon op dramatiese en omstrede wyse by Hamilton afgevat, maar die afgelope seisoen was hy absoluut dominerend en kon niemand naby hom kom nie.

“Ek kan F1 in die toekoms domineer,” het Verstappen Sondag gesê nadat hy die wêreldtitel op die Suzuka-baan in Japan beklink het.

“Indien ek vorentoe ’n mededingende renmotor het, is daar geen rede waarom ons nie kan aanhou wen nie,” het die Red Bull-bestuurder gesê.

ʼn Paar jaar gelede het hulle die 25-jarige Nederlander Mad Max gedoop, maar ná Sondag praat tientalle kenners en derduisende aanhangers reeds van Magtige Max.

Kyk ’n mens na die statistieke, blyk Verstappen haastig op pad te wees om al die sport se rekordboeke te herskryf.

Op dieselfde ouderdom (25 jaar) as Michael Schumacher het Verstappen reeds 30 meer Grand Prix-oorwinnings, 18 meer eerste wegspringposisies, 57 meer podiumplekke en twee wêreldtitels meer.

Dit is haas ongelooflik.

In vergelyking met Hamilton spog Verstappen met 21 meer wedren‑oorwinnings, een eerste wegspringplek meer, 47 meer plekke op die podium en een titel meer.

Die jaer wat op ’n jong ouderdom die beste met Verstappen vergelyk, is Sebastian Vettel.

Verstappen spog weliswaar met 10 meer wedren-oorwinnings en 35 meer plekke op die podium, maar Vettel kan 15 meer eerste wegspringposisies en dieselfde aantal wêreldtitels agter sy naam skryf.

Verstappen se rekord tot dusver sluit 32 wedren-oorwinnings, 18 eerste posisies op die wegspringrooster, 74 podiumplekke in wedrenne en twee kampioenskapstitels in.

Hy het tot dusver twaalf van die seisoen se agttien wedrenne gewen en is nog lank nie klaar nie.

“Ek wil nog ’n paar wedrenne hierdie seisoen wen. Ons moet voordeel trek uit die renmotor wat ons het. Die motor is beslis beter as enige van die ander en ’n mens weet nie of jy weer ’n motor van só ’n gehalte in die toekoms gaan hê nie,” het Verstappen gesê.

Die volgende F1-wedren is op 23 Oktober, wanneer die VSA-Grand Prix in Austin, Texas, beslis word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Boer ·

Hy is beslis Super Max, hy is in ‘n klas van sy eie en hy het net een doel en dit is wen klaar en dit maak nie saak waar hy weg spring.

Twallie ·

Max is duidelik in ‘n klas van sy eie. Ek dink ‘n nuwe era het aangebreek vir Formule Een. Hoop net nie dit raak vervelig nie.

Koos 100 ·

Geluk Max.
Nou begin die harde werk. Vra maar vir enige van die ander multi kampioene, die derde is jou moeilikste. Jy dra ‘n teiken op jou rug en almal het jou strategieë leer ken en troef. Jou span moet ook uithaal en wys om ‘n goeie kar aan jou te voorsien.

Fran ·

Ek hou van Max en hy is uiters talentvol maar hy moenie toelaat dat arrogansie met uitsprake soos “Ek kan F1 in die toekoms domineer,” hom pootjie nie. Bly beskeie ou seun en jy sal vêr kom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.