‘Doyenne van ontspanningsfiksie sterf’

Cecilia Britz (Foto: Verskaf)

Cecilia Britz, bekend vir haar bydrae tot ontspanningsfiksie en hygliteratuur in Afrikaans, is onverwags op 12 Desember in die ouderdom van 64 oorlede. Britz het onverwags in die hospitaal gesterf toe sy daar was vir ʼn prosedure.

“Ons innige medelye aan Britz se kinders, kleinkinders en familie,” het Sylvia de Wet, Lapa se uitvoerende direkteur, gesê. “Ons bid vir almal en dra hulle op aan onse Vader in die moeilike omstandighede.”

Britz was voorheen in diens van Perskor waar sy, onder leiding van Franz Marx, gewedywer het om lesers van Afrikaans terug te wen. Ná Perskor deur die destydse Maskew Miller Longman oorgekoop is, het Britz as Huisgenoot se verhaleredakteur gewerk.

In daardie stadium het Lapa Uitgewers haar ook genader en sy het ’n ruk lank deeltyds vir die maatskappy gewerk. Op 1 Desember 2004 het sy voltyds by Lapa aangesluit.

Een van Britz se grootste suksesse was Lapa se Romanza-reeks, wat volgende jaar sy vyftiende bestaansjaar vier.

Britz het in Junie verlede jaar ná 35 jaar in die uitgewersbedryf afgetree, maar het steeds vryskutwerk vir Lapa gedoen.

“Britz het aan almal vertel sy sou ‘mal word’ as sy by die huis moes sit en het gewoon op ’n kontrakbasis aan Lapa se fiksie aanhou werk,” vertel Izak de Vries, skrywer en uitgewer van Lapa.

“Geen besonderhede van ’n roudiens is nog bekend gemaak nie,” het De Wet laat weet. “Lapa vra dat die familie die geleentheid gegun sal word om oor hulle ma en ouma se onverwagse afsterwe te rou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Skrywer ·

Baie simpatie aan die geliefdes van Cecilia. Sterkte in hierdie tyd en ook later.

Net een algemene opmerking met alle respek en sonder verwysing na enige spesifieke persoon se werk. (Ek is nie bekend met Cecilia se werk nie.)

My opmerking gaan oor die woord “hygliteratuur” wat in hierdie berig gebruik word. Persoonlik vind ek hierdie genre geensins ware literatuur of letterkunde/taalkuns nie. Dit kom wel dikwels voor as goedkoop, oppervlakkig en soms afstootlike kitch wat kan grens aan pornografie in woorde. Skrywers, dink na. Ons almal weet woorde is kragtig. Woorde kan maak of breek. Dit kan lewens opbou, verryk, verdiep, veredel, motiveer, laat groei of laat blom. Woorde kan egter ook wat diep en onbeskryflik kosbaarmooi is reismier, vertrap en selfs wreed vernietig. Dit kan aan lewens uiterste skade doen. Woorde kan selfs ‘n taal skande aan doen. Wat is die doel van jou skrywe? Jy mag dalk ook ‘n ander doel bereik waarop jy geensins gereken het nie, waarvan jy dalk nie eens kon droom of ooit bewus sal wees nie. Daarom, dink na. Versigtig met woorde. Versigtig met wat ons sê op papier, op internet, waar ookal. Ons kan vere in die wind nooit weer met ons hande vang nie. My woorde is my verantwoordelikheid. En my verantwoordelikheid is my verantwoordelikheid. En aan my woorde sal ek geken word.

SM ·

Baie waar en insigvol. Baie dankies.

Verder sleep mens se woorde jou siel eintlik maar op die oipenbare plein rond ~ vir almal om te bekyk, te bekoor of koester of, te beskinder en te veroordeel… En voordat jy jou oe uitvee, maal jy met almal – woordeloos of nie – saam op die plein…

En die hane kraai orals…

Tienie Holtzhausen ·

Ek gaan, anders as die vorige twee skrywers, my naam noem: Tienie Holtzhausen. En ek glo Cecilia se nalatenskap is oneindige skade aangedoen met genoemde skrywes. Sy was eerstens ‘n uitgewer. Om die genre wat sy bevorder het aan te haal as “kitch” (sic), getuig myns insiens van oningeligtheid. Dan ook skryf dieselfde persoon van woorde wat “reismier”. Ja, sowaar, net so gespel. Agge nee, ek hoop die regtige groot geeste in die skryfwêreld reageer op hierdie platform en besing Cecilia se ongelooflike talent ordentlik.

SM ·

Tiuenie… Regtig? Waar val jy uit? Ek ken die persoon van geen kant nie en, my gesprek was vriendelik en teenoor iemand wie ek ook nie ken nie. Ek verfoei valse bewerings, laat staan nog irrasionele en ongegronde vae aantuigings! Jy kan nie ander bluf met sulke growwe kwaadwilligheid nie? Hou op haat en net foute wil vind asb.. Gedenk jou helde met dankbare waardigheid in stilte, nie met ‘n makabere, swartgallige gekras nie. Wanneer laas het jy die Here gedank vir alles goed – wat elke dag gebeur? Ek bedoel dit opreg en met ‘n goeie gesindheid. Wens jou en elkeen my beste wense toee.

Fritz Nel ·

Dalk moet jy maar weer gaan lees, Tienie. Daar word in bg opmerkings in die algemeen verwys na ‘n sogenaamde literêre genre en daar word duidelik aangedui dat geen spesifieke persoon se werk ter sprake is nie. Die opmerkings volg bloot op grond van die woordgebruik in bostaande berig. Verder spreek dit vanself dat geen genre aan enige bepaalde skrywers of uitgewers kan behoort nie, daarom is dit onvanpas om te redeneer dat juis haar nalatenskap skade aangedoen word. Net soos jy, is enige ander persone ook vry om te assosieer waarmee hulle wil en op grond daarvan hul eie opinies te vorm en weer te gee. Jy is vry om rysmier korrek te spel en dit is dan ook juis oor die wêreld van woorde waaroor dit hier gaan. Daar is baie duidelik geen persoonlike bedoelings ter sprake nie. Terwyl enige skrywer homself in mindere of meerdere mate blootstel, gaan die opmerkings hier slegs oor die genre.

SM ·

Goeie middag. Goed en feitlik gestel baie dankies- dis soos dit is,

NS Ek het na ‘n paar jaar van sosiale ontrekking op webwerwe onlangs weer ‘n paar keer kommentare gelewer en toe – die onsmaaklike en so onnodige bo-boogenoemde.. ;-)

Ek het finaal nou besluit – ek is totaal klaar met enige sosiale bydraes. Die sluimerende haat in vele vreemde mense is net te fel…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.