Foto’s: Romantiese snitte by Paryse couture-modeweek te sien

Die Lebanese modeontwerper Georges Hobeika se skeppings by in die Paryse modeweek se haute couture-versameling. (Foto: Emmanuel Dunand/AFP)

Ruimte-elemente, rose en romantiese snitte is volop in die Paryse modeweek se haute couture-versameling vir die lente en somer van 2024.

Die eerste week van dié gesogte modeweek, waartydens ontwerperskeppings en hoogmodiese tendense ten toon gestel word, het Maandag in Parys, Frankryk, afgeskop.

Die vier grootste modeweke word gewoonlik jaarliks in Februarie en September in onderskeidelik New York, Londen, Milaan en Parys aangebied om die lente/somer- en herfs/winter-versamelings, sowel as die haute couture-skeppings, ten toon te stel.

Hier is van die haute couture-versamelings se hoogtepunte:

Vroue gevier

Sy, sagte tulle en vroulike rokke het gepryk op loopplanke soos dié van Christian Dior en die Lebanese modeontwerper Georges Hobeika – ʼn gunstelingontwerper onder bekendes soos Chrissy Teigen, ʼn Amerikaanse model en televisiepersoonlikheid, en Jennifer Lopez, ʼn Amerikaanse sangeres en aktrise.

Volgens Hobeika bring sy jongste versameling hulde aan die “vroue van sy era”, met ʼn vermenging van elemente van die 1950’s en 1960’s modes en ʼn sogenaamde “moderne partytjiegees”.

Maria Grazia Chiuri, wat in 2023 as die eerste vrou aangestel is om die ontwerpspanne van die beroemde handelsnaam van Christian Dior te lei, het eg aan die modehuis se klassieke Franse styl gebly met 1950’s-geïnspireerde snitte, pof moue en fluweel A-lyn-rokke.

Afrika verteenwoordig

Die Kameroense ontwerper Imane Ayissi het bewys dat helder kleure, veral 2023 se magentapienk, nie vinnig van loopplanke gaan verdwyn nie.

Ayissi het verder graag vere, sy en organza in sy jongste ontwerpe gebruik.

Die Morokaanse ontwerper Sara Chraibi se versameling het veral uit warm, woestynagtige kleure en draperende syrokke bestaan.

Insekte en roosjasse

Dit sal natuurlik nie modeweek wees sonder waaghalsige, vreemde skeppings nie.

Rahul Mishra, ʼn Indiese ontwerper, het sy bekendheid vir avant-garde mode voortgesit en ontwerpe met oorgroot, geborduurde insekte soos naaldekokers, vuurvlieë en motte ten toon gestel.

Mishra het opgemerk dat mense “gekondisioneer” is om nie van insekte te hou nie en hulle te vrees, terwyl hulle “die ware, pragtige superhelde van die aarde is”.

Daniel Roseberry, hoofontwerper vir die Italiaanse Schiaparelli-modehuis, het rokke met nagemaakte leer, oordrewe skouerkussings en selfs gebreekte spieëls vir sy jongste reeks geskep.

Lopez het behoorlik koppe laat draai danksy haar pasgemaakte Schiaparelli-jas, wat uit meer as 7 000 vars roosblare bestaan het.

Sy het in ʼn Instagram-plasing verduidelik die “lewende jas” is met suikerwater vars gehou.

Roseberry is ook bekend vir Margot Robbie se swart, blink nommertjie by die wêreldpremière van Barbie in Julie verlede jaar. Die ontwerper is deur ʼn Barbie-pop uit die 1960’s, genaamd die “Barbie Solo in the Spotlight Doll”, geïnspireer.

Bykomende bronne: Vogue.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.