‘Harde werk’ Louzanne se geheim

Louzanne Coetzee saam met een van haar gidse, Estean. (Foto: Louzanne Coetzee/Instagram)

Vir Louzanne Coetzee is uitdagings allermins ʼn vreemde konsep; inteendeel, sy is omring daardeur. Tog glo sy vas: ʼn Uitdaging is bloot ʼn struikelblok, en nimmer as te nooit ʼn onoorbrugbare berg nie.

Louzanne is ʼn 30-jarige Paralimpiese atleet wat al twee medaljes (brons en silwer) by die Paralimpiese Spele in onderskeidelik Rio de Janeiro in 2016 en Tokio in 2020 ingepalm het. ʼn Seldsame oogsiekte, Leber se amourose, ʼn toestand wat die ontwikkeling van die retinas affekteer, is as baba by haar gediagnoseer. Dié toestand het haar blind gelaat, hoewel sy nooit toegelaat het dat haar gestremdheid ʼn stokkie voor haar drome steek nie.

“Die Here stuur jou op ʼn pad, en dit was my pad,” het sy aan Maroela Media vertel.

Louzanne is vroeër vanjaar met haar lewensmaat, Jeandré Badenhorst, by The Willows-venue in Bloemfontein getroud. Dit was ʼn sprokiestroue en ‑dag, onthou sy, daar is niks wat sy vandag anders sou wou doen nie.

Dié egpaar het in 2017 ontmoet toe Jeandré (32) en sy boetie, Estean, op soek was na ʼn oefengemeenskap om van deel te word. Alhoewel hulle mekaar toe reeds ontmoet het, erken Louzanne dat die liefde eers in 2019 begin blom het.

“Ons was toe ouer en ons het geweet wat ons in ʼn lewensmaat wou hê. Ons het dieselfde doelwitte, en hy het ten alle tye my atletiekloopbaan gerespekteer – wat vir my uiters belangrik is.”

Louzanne se afgetrede gidshond, Oakley, en haar huidige gidshond, Isabella, het hul pligte as ringdraers tydens die trouseremonie uiters ernstig opgeneem. Dié twee vierpotige vriende is al jare deel van Louzanne en Jeandré se lewe. Dit was vir die paartjie net voor die handliggend dat hulle deel van die troue moet wees.

Louzanne se sussie, Anmari, en Jeandré se boetie, Estean, was tydens die troue verantwoordelik daarvoor om die honde die kerk in te bring.

“Hulle is soos familie vir ons, hulle moes net daar wees om die dag saa

Louzanne se twee gidshonde, Isabel en Oakley, was die ringdraers by die troue. (Foto: Mandie Niemann Photography/verskaf)

m met ons te vier.”

Louzanne het vroeër vanjaar diep in mense se harte gekruip toe ʼn dokumentêre rolprent, ʼn Gids vir Louzanne, oor haar lewe en sportloopbaan by kykNET se jaarlikse Silwerskermfees bekendgestel is. Dit is die eerste jaar wat dokumentêre rolprentmakers aan die fees kon deelneem, en Louzanne kon nie glo dat haar lewensverhaal die inspirasie vir dié fliek was nie.

“Die fliek was nie iets wat ek ooit gedink het gaan gebeur nie, jy dink nie aan jou eie lewe as ʼn storie wat vertel moet word nie. Die dokumentêr het my wildste drome oortref.”

Onverwagse wending

Alhoewel Louzanne vandag sukkel om haar ʼn lewe sonder atletiek in te dink, was dit so hittete of sy het nooit op die atletiekbaan beland nie.

“Ek was nooit besonders aktief op skool nie, en kom ook nie uit ʼn huis uit waar ʼn liefde vir sport aktief beoefen is nie,” onthou sy.

“Ek het eers tydens my eerste jaar op universiteit besef dat ek van atletiek hou nadat ek aan ons eerstejaarsatletiekbyeenkoms deelgeneem het. Atletiek het my gevind, nie andersom nie.”

Sedertdien het atletiek meer as net ʼn sportsoort vir Louzanne geword, vandag beskou sy dit as ʼn leefwyse. Daarsonder sal sy nimmer as te nooit die lewe kan aanpak nie.

(Foto: Mandie Niemann Photography/verskaf)

Sy werk tans as koshuisbestuurder by die Universiteit van die Vrystaat, waar sy ook destyds kommunikasiekunde studeer het. Louzanne het ʼn voorliefde vir ʼn aktiewe koshuislewe, aangesien sy van jongs af deel van ʼn koshuis was.

Alhoewel sy in Bloemfontein gebore en getoë is, was sy maar sewe jaar oud toe sy die eerste keer oor die koshuisdrumpel getrap het. Sy het haar skoolloopbaan by die Pionierskool vir gesiggestremdes in Worcester voltooi, ver van haar ouerhuis in die Vrystaat af. Toe sy ná skool in die dameskoshuis Roosmaryn nesskrop, was dit byna soos tweede natuur vir haar.

Louzanne moes deur die loop van haar studies en loopbaan as atleet haar weg oopveg vir ʼn plek waar para-atlete tot hul volle reg kan kom. Terwyl daar steeds ruimte vir verbetering is, sien sy uit om te sien watter hoogtes die volgende generasie van para-atlete gaan bereik.

“Kovsies het nie sport met gestremdhede geken voordat ek begin studeer het nie. Ek moes gedurende my studentejare help om sport vir gestremde persone uit te bou.

“Die universiteit het ʼn groot invloed op my sukses gehad. Ek gebruik vandag nog hul bane om te oefen. Ek is opgewonde om te sien wat atlete in die toekoms by die universiteit gaan vermag.”

(Foto: Mandie Niemann Photography/verskaf)

Sy ag ʼn positiewe ingesteldheid en ʼn bereidwilligheid om hard te werk as onvervangbare lewenswaardes in haar lewe.

“Jy moet bereid wees om hard te werk en jouself te bewys – en dit tel vir mense met én sonder gestremdhede.

“Niks kom maklik nie. Jy gaan bereid moet wees om die tyd en moeite in te sit, dinge gaan nie net gebeur nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.