Hiér is die wêreld se hoogsbetaalde sterre

jk rowling

J.K. Rowling is die skrywer wat die meeste geld in die afgelope 12 maande verdien het – ‘n koel $92 miljoen. (Foto: ANA)

Sangers, akteurs, sportsterre, televisiepersoonlikhede en skrywers – maak nie saak in watter bedryf dit is nie, die wêreld se bekendes weet hoe om roem optimaal te gebruik om sakeryke ter waarde van multimiljoene te bou.

Forbes het pas sy jongste lys bekendgemaak van die hoogsbetaalde bekendes die afgelope jaar en die geld wat dié sterre jaarliks in hul sak steek, is niks minder as verstommend nie. In die afgelope 12 maande het die wêreld se 100 hoogsbetaalde supersterre altesaam $6,3 miljard verdien voor belasting. Dit is 7%, of sowat $37,5 miljoen, meer as ʼn jaar gelede.

Die jonges staan ook hul plek vol op dié gesogte lys en bewys dat omvattende lewenservaring nie ʼn voorwaarde is om suksesvolle sakeryke te bou nie.

Taylor Swift. (Foto: Facebook)

Heel bo-aan die lys pryk die 29-jarige Taylor Swift wat in die afgelope jaar $185 miljoen (ongeveer R2,58 miljard) verdien het – haar grootste jaarlikse inkomste nog. Die popsangeres verdien haar miljoene grotendeels deur haar konserttoere. Forbes berig haar “Reputation Stadium”-toer wat bestaan het uit 53 konserte in 36 stede in sewe verskillende lande het ʼn inkomste van $345 miljoen getrek.

Kylie Jenner. (Foto: Facebook)

Tweede op die lys is Kylie Jenner (21) wat vroeër vanjaar amptelik deur Forbes gekroon is as die jongste selfgemaakte miljardêr nóg. Jenner het in die afgelope 12 maande altesaam $170 miljoen verdien. Behalwe vir die geld wat sy verdien uit haar familie se realiteitsreeks, Keeping up with the Kardashians, is Jenner se rykdom ook te danke aan Kylie Cosmetics, ʼn grimeringonderneming wat sy in 2015 begin het. Sy het ook pas ʼn velsorgreeks, Kylie Skin, bekendgestel.

Kanye West. (Foto: Facebook)

In die derde posisie is Jenner se swaer, Kanye West (42), met ʼn inkomste van $150 miljoen. West is met die realiteitster Kim Kardashian-West getroud. West se posisie is te danke aan sy multimiljard dollar Yeezy-sakeryk. West het sy Yeezy-skoenreeks in 2009 saam met Nike bekendgestel en in 2013 vir Adidas aan boord gebring. En natuurlik is daar ook die miljoene wat West verdien deur sy albums, konserte en toere.

Lionel Messi. (Foto: Facebook)

Die sportster wat die afgelope jaar wêreldwyd die heel grootste inkomste verdien het – en in die no. 4-posisie op die algehele lys is – is sokkerspeler Lionel Messi. Die Argentynse sokkerspeler is net 32 jaar oud, maar het in die afgelope jaar $127 miljoen verdien. Messi verdien as speler vir FC Barcelona na raming $111 miljoen in salaris en wengeld waarvan hy sowat $84 miljoen in sy sak steek. Daarby bring borge hom na verwagting nog sowat $27 miljoen per jaar in die bank. Die sportster het onder meer kontrakte met Adidas, Gatorade, Pepsi en Huawei.

Ed Sheeran. (Foto: Facebook)

Vyfde op die lys is die geliefde rooikopsanger, Ed Sheeran (28), met ʼn inkomste van $110 miljoen. Die Britse sanger se oorweldigende suksesvolle musiekloopbaan het hom dié indrukwekkende posisie besorg. Sheeran se “The Divide”-toer, wat ook in Maart ʼn draai in Suid-Afrika kom maak het, het na raming meer as $600 miljoen wêreldwyd ingeoes.

Die res van die top-20 op die lys lyk só:

PosisieBekendeInkomste
6Cristiano Ronaldo (34)$109 miljoen
7Neymar (27)$105 miljoen
8The Eagles$100 miljoen
9Dr. Phil McGraw (68)$95 miljoen
10Canelo Alvarez (28)$94 miljoen
11Roger Federer (37)$93,4 miljoen
12Howard Stern (65)$93 miljoen
13JK Rowling (53)$92 miljoen
14Russel Wilson (30)$89,5 miljoen
15Dwayne Johnson (47)$89,4 miljoen
16Aaron Rodgers (35)$89,3 miljoen
17LeBron James (34)$89 miljoen
18Rush Limbaugh (68)$87 miljoen
19Elton John (72)$84 miljoen
20Jay-Z (49)$81 miljoen

Kliek hier vir die volledige lys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jaco ·

Dis skokkend, om te dink hierdie mense beteken nie eintlik veel vir die samelewing wat n gehalte lewe aanbetref nie, boere, fabrieke, dokters en ingenieurs wat 100% bydra tot ons as mens se kwaliteit lewe op n daaglikse vlak verdien nie n fraksie van wat rappers, tv persoonlikhede en realiteits sterre verdien nie…die wêreld is baie agterstevoor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.