Hoe lyk Hollywood: Britney se geldsake maak opslae; Joe Exotic-minireeks op pad

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van dié week se jongste internasionale vermaaknuus.

Britney Spears se geldsake maak opslae

Jamie Lynn Spears. (Foto: IMDb)

Jamie Lynn Spears (29), die jonger suster van Britney Spears (39), eis meer beheer oor die beroemde popster se fortuin in ʼn toenemend gespanne stryd om voogskap.

Britney se geldsake word tans beheer deur haar pa, Jamie Spears, wat reeds langer as ʼn dekade as sy dogter se wettige voog optree vanweë haar geestesgesondheidsprobleme. Hy het in 2019 tydelik uit dié rol getree nadat hy self deur gesondheidsprobleme afgetakel is.

Jamie Lynn het reeds ʼn mate van seggenskap oor Britney se geldsake verkry nadat sy in 2018 as ʼn trustee van haar boedel aangestel is. In ʼn hofaansoek wat die afgelope week ingedien is, vra sy om beheer oor geld in ʼn trustfonds wat reeds in 2004 opgestel is om na Britney se kinders om te sien.

Britney het twee seuns, Sean (14) en Jayden (13), oor wie sy toesig verloor het na haar egskeiding met die voormalige danser en pa van haar kinders, Kevin Federline.

Sy het versoek dat die geld oorgedra word na rekeninge waarvan sy die bewaarder is. Indien dit goedgekeur word, sal die finansiële bates van die fonds na daardie rekeninge oorgedra word en ʼn regter sal goedkeuring moet gee om die geld beskikbaar te stel.

Sommige van Britney se aanhangers glo sy is gedwing om dié reëling te aanvaar en het ʼn #FreeBritney-veldtog op sosiale media van stapel gestuur.

Die jongste hofaansoek verduidelik nie watter rol dit sal speel in die sangeres se uitgerekte voogskapsaak nie. Só ʼn reëling word gewoonlik getref vir individue wat nie in staat is om hul eie besluite te neem nie, soos diegene met dementia of ander geestesgesondheidsprobleme.

Die voogskap is opgestel in 2007 nadat Britney wispelturig begin optree het. In Januarie verlede jaar het sy skielik haar vaste konsertreeks in Las Vegas gekanselleer voordat sy by ʼn geestesgesondheidsfasiliteit aangemeld het.

Steven Spielberg se pa (103) sterf

Steven Spielberg en sy pa, Arnold. (Foto: AP Photo/Chris Pizzello)

Arnold Spielberg, pa van die bekroonde rolprentregisseur Steven Spielberg, is Dinsdag aan natuurlike oorsake oorlede. Hy was 103 jaar oud.

Arnold was bekend as elektriese ingenieur vir die maatskappy General Electric. Volgens ʼn verklaring was Steven aan sy pa se sy die aand van sy dood.

“Wanneer ek ʼn PlayStation sien of na ʼn selfoon kyk – van die kleinste sakrekenaar tot ʼn iPad – kyk ek na my pa en sê: ‘My pa en ʼn span genieë het dit begin,” het Steven gesê.

In ʼn gesamentlike verklaring het Arnold se kinders gesê hul pa het “hulle geleer om navorsing lief te hê, om hul verstande te stimuleer en hul voete op die grond te hou terwyl hulle reik na die sterre”. Benewens Steven het Arnold ook drie dogters, Anne, Nancy en Sue.

Joe Exotic-minireeks eersdaags te sien

Joe Exotic. (Foto: IMDb)

ʼn Minireeks getiteld Joe Exotic sal op NBC, Peacock en USA uitgesaai word. Die reeks word deur Universal Content Productions vervaardig.

Die Saturday Night Live-aktrise Kate McKinnon sal die rol van Carole Baskin vertolk. Die rol van Joe Exotic is nog nie bevestig nie, hoewel talle bekende akteurs aangedui het dat hulle nie sal skroom om dié rol te vertolk nie.

Die reeks is glo geskoei op die Wondery-poduitsending oor die omstrede en eksentrieke tierhanteerder en ‑teler Joe Exotic, wat tans tronkstraf uitdien vir ʼn huurmoordkomplot op Baskin, eerder as op die Netflix-dokumentêre reeks The Tiger King.

McKinnon sal ook as uitvoerende vervaardiger optree en die reeks sal geskryf word deur Etan Frankel, ʼn skrywer bekend vir reekse soos onder meer Shameless en Sorry for your loss.

Bronne: BBC, Variety, E News

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.