Hoe lyk Hollywood: Gwen Stefani, Blake Shelton verloof; Kim K gespot oor partytjie

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van dié week se jongste internasionale vermaaknuus.

Gwen Stefani, Blake Shelton verloof

Gwen Stefani en Blake Shelton. (Foto: Instagram/Gwen Stefani)

Die popsangeres Gwen Stefani en country-musikant Blake Shelton het vandeesweek hulle verlowing aangekondig.

Die paartjie het die nuus bevestig deur foto’s op Instagram te deel van Stefani wat spog met ʼn splinternuwe verloofring wat aan haar vinger glinster.

“Ja, asseblief!” het Stefani by die foto geskryf. Sy is hoofsaaklik bekend as voorsanger van die rockgroep No Doubt.

“Hey @gwenstefani, dankie dat jy my 2020 gered het … en die res van my lewe … ek is lief vir jou. Ek het die jawoord gehoor!” het Shelton geskryf.

Gwen Stefani en Blake Shelton is verloof. (Foto: Instagram/Gwen Stefani)

Stefani (51) en Shelton (44) het mekaar in 2015 op die stel van die Amerikaanse sangprogram The Voice ontmoet. Hulle het sedertdien verskeie kere saam gesing en het onlangs ʼn CMT-musiektoekenning ingeoes vir die liedjie “Nobody But You”.

Volgens E! News het die paartjie in Oklahoma verloof geraak en is die diamantring tussen ses en agt karaat groot.

Stefani het drie seuns, Kingston (14), Zuma Nesta Rock (12) en Apollo Bowie Flynn (6), saam met haar eksman, die musikant Gavin Rossdale. Shelton en die country-sangeres Miranda Lambert is in 2015 geskei.

Jamie Foxx se suster sterf

Deondra Dixon en Jamie Foxx. (Foto: Instagram/Jamie Foxx)

Die Oscar-bekroonde akteur Jamie Foxx het vandeesweek bevestig sy suster Deondra Dixon is op die ouderdom van 36 oorlede.

Dixon het aan downsindroom gely en was ʼn ambassadeur vir die Global Down Syndrome Foundation. Volgens die organisasie het Dixon op 19 Oktober gesterf.

Foxx (52) het ʼn roerende huldeblyk aan Dixon op sy Instagram-profiel gedeel. Hy het ook ʼn rits foto’s saam met Dixon gedeel.

“My hart is gebreek in ʼn miljoen klein stukkies. My pragtige suster Deondra het oorgegaan. Ek sê oorgegaan, want sy sal altyd voortleef. Enigiemand wat my suster geken het, weet sy was ʼn helder lig,” het die Django Unchained-ster geskryf.

“Deondra, jy het ʼn gat in my hart agtergelaat, maar ek sal dit vul met al die herinneringe wat jy vir my gegee het. Ons familie is gebroke, maar ons sal die stukke weer met jou liefde saamvoeg.”

Die Global Down Syndrome Foundation het ook ʼn huldeblyk aan Dixon op sy webwerf geplaas.

“Deondra is in hierdie wêreld ingebring deur ʼn liefdevolle familie wat haar soos enige ander familielid hanteer het. Hulle het vir haar die geskenk van aanvaarding, selfvertroue en kennis gegee.”

Kim Kardashian West gespot oor “nederige partytjie”

Kim Kardashian West. (Foto: ANA)

Talle grappe oor Kim Kardashian West se 40ste verjaarsdagpartytjie het soos ʼn veldbrand op die internet versprei.

Dit volg nadat Kardashian West foto’s van haar partytjie op Twitter gedeel het. Volgens die inskrywing by die foto’s het Kardashian West ʼn groot groep van haar “naaste vriende” na ʼn private tropiese eiland vir ʼn luukse geleentheid genooi.

Haar ma en bestuurder, Kris Jenner, haar supermodel-suster Kendall Jenner, die Kanadese basketbalspeler en kêrel van Khloe Kardashian, Tristan Thompson, en die pa van Kourtney Kardashian se drie kinders, Scott Disick, is almal op die foto’s te sien.

“Ná twee weke van vele gesondheidstoetse en nadat almal gevra is om in kwarantyn te bly, het ek my naaste binnekring verras met ʼn reis na ʼn private eiland waar ons net vir ʼn kort rukkie kon voorgee dat alles normaal is,” het Kardashian West geskryf.

Kim Kardashian West (links voor) saam met haar sibbe. Agter is Khloe, Rob en Kendall. Voor langs Kim is Kourtney. (Foto: Instagram/Kim Kardashian West)

“Ons het gedans, fiets gery, geswem naby walvisse, kajak gery, ʼn fliek op die strand gekyk en soveel meer. Ek besef vir die meeste mense is dit iets wat tans so ver buite hulle bereik is, so in oomblikke soos hierdie word ek nederig herinner aan hoe bevoorreg my lewe is.”

Internetgebruikers het ook na Kardashian West se “verwaandheid” verwys om te midde van die Covid-19-pandemie ʼn partytjie saam met ʼn groot groep te hou.

Kardashian West is ook skerp gekritiseer omdat dit in die foto’s duidelik is dat haar vriende en familie nie maskers dra nie, terwyl kelners in die agtergrond sigbaar is met maskers aan.

“Vir Kim Kardashian is dit nie genoeg om soveel geld te hê dat sy kan doen net wat sy wil nie. Sy moet dit ook aan almal wys,” het die musiekjoernalis Eve Barlow gesê.

Colin Hanks, seun van Tom Hanks en Rita Wilson, het geskryf: “Laat hulle koek eet.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Sylvia ·

Stefani (51) en Shelton (44)? moet dit nie andersom wees nie?

Vonnie ·

wat het haar ouderdom daarmee uit te waai? (indien dit sou verkeerd wees?)

minniemuis ·

Dit is die korrekte ouderdomme…liefde ken nie ouderdom nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.