Hoe lyk Hollywood: Paul Walker se dogter deel video van pa; Covid-19 ‘affekteer’ J-Lo se troudatum

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van dié week se jongste internasionale vermaaknuus.

Lady Gaga en Kie. hou TV-konsert vir gesondheidswerkers

Lady Gaga. (Foto: Instagram/Lady Gaga)

Die popsangeres en bekroonde aktrise Lady Gaga bied binnekort saam met internasionale musieksterre soos Billie Eilish, Lizzo en Elton John ʼn televisiekonsert aan om geld vir beskermende toerusting vir gesondheidswerkers te midde die wêreldwye koronaviruskrisis (Covid-19) in te samel.

Die One World: Together at Home-konsert, waarin die ikone Paul McCartney en Stevie Wonder ook ʼn verskyning sal maak, is in samewerking met Lady Gaga en die Global Citizen-groep saamgestel.

Die geld wat deur die konsert ingesamel word sal ook bydra tot die ontwikkeling van ʼn entstof teen die koronavirus. Jimmy Kimmel, Jimmy Fallon en Stephen Colbert, geselsprogramaanbieders op TV, sal die aanbieders wees.

Lady Gaga, wat reeds meer as $35 miljoen vir die Wêreldgesondheidsorganisasie en die stryd teen Covid-19 ingesamel het, het Maandag tydens ʼn mediakonferensie gesê sy wil haar “diepe dankbaarheid” betuig teenoor gesondheidswerkers wat verbete teen dié siekte baklei.

Die konsert sal op 18 April regstreeks op talle netwerkte in die VSA sowel as op BBC One in Brittanje uitgesaai word.

Covid-19 ‘affekteer’ J-Lo se troudatum

Jennifer Lopez en Alex Rodriguez. (Foto: Instagram/Alex Rodriguez)

Die sangeres en Golden Globe-benoemde aktrise Jennifer Lopez het onlangs tydens ʼn virtuele verskyning op Ellen Degeneres se program, The Ellen Show, verklap dat haar troudatum ‘geaffekteer is’ deur die wêreldwye koronaviruskrisis.

Lopez en die voormalige Yankees-bofbalspeler Alex Rodriguez het in Maart verlede jaar verloof geraak ná twee jaar saam. Dit sal Lopez se vierde en Rodriguez se tweede huwelik wees.

Hoewel die amptelike troudatum nie bekendgemaak is nie, het die sangeres gesê alle troubeplanning is voorlopig gestaak.

“Ons sal ʼn paar maande moet wag en kyk hoe dinge uitwerk,” het Lopez aan Degeneres gesê. Degeneres saai deesdae haar program vanuit haar huis in Montecito, Kalifornië, uit.

Paul Walker se dogter deel intieme video van pa

Paul Walker. (Foto: AP Photo/Andrew Medichini)

Die ontslape akteur Paul Walker van The Fast and the Furious-faam, se dogter Meadow (21) het ʼn video op Instagram gedeel waarin sy haar pa op sy verjaardag verras.

“Ek het nooit gedink ek sal hierdie deel nie. Dit het reg gevoel,” het Meadow, wat nie ʼn gereelde sosialemediagebruiker is nie, by die video geskryf.

Meadow het in 2017 in ʼn regsgeding met die motorvervaardiger Porsche geskik, amper vier jaar ná haar pa in ʼn hoëspoedjaagtog dood is. Walker (40) was in November 2013 die passasier in ʼn 2005 Porsche Carrera GT toe hulle ʼn lamppaal getref en die motor aan die brand geslaan het.

Die bestuurder van die motor, Roger Rodas, het beheer oor die motor verloor, waarna hy ʼn beton telefoonpaal en twee bome getref het teen ʼn spoed van tussen 125 en 150 km/h. Walker het ʼn liefdadigheidsgeleentheid vir tifoonslagoffers in Valencia, Kalifornië, verlaat toe die ongeluk plaasgevind het.

https://www.instagram.com/p/B-sc2HNj0mn/

Bronne: BBC, Harper’s Bazaar, E! News

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Chantel ·

Ahh, dit was nou lekker om hom weer te sien en sy stem te hoor. Mens vergeet hoe mense klink wanneer hulle reeds lank dood is. Hierdie is baie spesiaal van haar om dit te deel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.