Hollywood: Miljoene dollar vir Britney-memoir; akteur, vrou herenig ná vyf jaar apart

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van die week se jongste internasionale vermaaknuus.

Miljoene dollar vir Britney-memoir

Britney Spears in Julie 2019. (Foto: Valerie Macon/AFP)

Drie maande nadat die popster Britney Spears se voogdyskap amptelik tot ʼn einde gekom het, is sy gereed om met die hele sak patats vorendag te kom.

Britney (40) het ʼn multimiljoen-dollar-ooreenkoms geteken om haar kant van die storie in ʼn omvattende memoir te vertel.

Die memoir sal deur die uitgewer Simon & Schuster uitgegee word. Die ooreenkoms van $15 miljoen (sowat R230 miljoen) is vroeër vandeesweek gesluit.

Die boek sal glo ʼn verskeidenheid van onderwerpe bevat, onder meer oor haar professionele en persoonlike lewe. Dié nuus is deur Page Six, Deadline en Variety bevestig.

ʼn Regter in Los Angeles het in November formeel die proses goedgekeur om die omstrede voogdyskap te beëindig wat Britney se lewe 13 jaar lank beheer het.

Jamie Spears is in 2008 as sy dogter se voog aangestel te midde van kommer oor haar geestesgesondheid. ʼn Regter het in September verlede jaar dié rol oorgegee aan ʼn voog wat deur Spears se eie regspan aangewys is. Dié omstrede voogdyskap is intussen beëindig.

Britney het intussen op sosiale media gepraat oor hoe haar pa, haar ma, Lynne, en jonger suster, Jamie Lynn Spears, haar voogdyskap misbruik het. Jamie Lynn het ook in Januarie ʼn memoir, getiteld Things I should have said, uitgereik.

Britney Spears en haar ma, Lynne Spears, in gelukkiger tye. (Foto: Facebook)

Dié memoir, wat onder meer uitbrei oor die Spears-gesin se “gekompliseerde dinamika”, is nie goed deur Britney ontvang nie.

Sy het in ʼn plasing op Instagram, wat intussen uitgevee is, uitgevaar teen Jamie Lynn en haar “skuim” genoem. “Geluk, topverkoper … jy is vermetel om nou ʼn boek te verkoop en k*k te praat, maar jy f****n lieg,” het Britney geskryf.

“Ek wens jy wil ʼn leuenverklikkertoets ondergaan sodat al die massas mense kan sien hoe jy deur jou tande lieg oor my. Ek wens die magtige Vader kan aarde toe kom en die hele wêreld wys hoe jy lieg en probeer geld maak uit my.”

Britney het ook haar regsverteenwoordiger, Matthew Rosengart, opdrag gegee om ʼn brief aan haar 30-jarige suster te stuur waarin sy gevra word om haar optrede te staak en haar voortaan van “misleidende en belaglike bewerings” te weerhou.

“Hoewel Britney nog nie jou boek gelees het nie en ook geen voorneme het om dit te lees nie, is sy en miljoene van haar aanhangers geskok om te sien hoe jy haar uitbuit vir geldelike gewin,” het die brief aan Jamie Lynn gelui. “Sy gaan, en hoef, dit nie te duld nie.”

Jamie Lynn Spears. (Foto: Facebook)

Jamie Lynn het egter haar boek in ʼn onderhoud met E! se Daily Pop verdedig en gesê sy “kan nie help” in watter familie sy gebore is nie.

“Ek dink ons is almal in ʼn situasie en in ʼn proses om daardeur te werk. Elkeen van ons het die reg om dit te verwerk op die manier wat vir ons die beste voel.”

Britney het in Oktober aan E! News gesê sy voel haar jonger suster het haar heeltemal in die steek gelaat tydens haar voogdyskapstryd.

“Britney is baie, baie kwaad en seergemaak,” het ʼn bron na aan die popster gesê. “Sy voel asof Jamie Lynn haar versaak en teleurgestel het tydens die stryd van haar lewe. Hulle was beste vriendinne en het alles vir mekaar beteken vir so lank. Sy het vir ondersteuning gevra en gevoel Jamie Lynn draai haar rug op haar.”

Britney het op Instagram ook daarop gesinspeel dat sy gereed is om haar kant van die verhaal te vertel. “Behoede my familie se siele as ek ooit ʼn onderhoud sou toestaan,” het sy geskryf.

Akteur, vrou ná vyf jaar apart herenig

Ben Stiller en Christine Taylor. (Foto: Facebook)

Die akteur Ben Stiller en sy vrou, die aktrise Christine Taylor, is weer bymekaar vyf jaar nadat hulle aangekondig het dat hulle paaie gaan skei.

Stiller (56) het aan Esquire verduidelik dat die Covid-19-pandemie die katalisator vir die hereniging was.

In 2020 het Stiller en Taylor besluit dit is beter as hy gedurende die eerste maande van die inperking terugtrek na die gesin se huis sodat hy nader aan hulle twee kinders, Ella (19) en Quinlin (16), kon wees.

“Oor ʼn tydperk het dinge ontwikkel. Ons was geskei en is weer terug by mekaar en is baie gelukkig daaroor. Dit was onverwags, maar dit was een van die wonderlike dinge wat uit die pandemie gekom het.”

Stiller en Taylor (50) het in 2017 aangekondig dat hulle paaie gaan skei ná ʼn huwelik van 17 jaar, maar hulle het nie aansoek om ʼn egskeiding gedoen nie.

‘Harry Potter’ nou Weird Al

Daniel Radcliffe op die stel van ‘WEIRD: The Al Yankovic Story’. Hy vertolk die rol van Weird Al Yankovic. (Foto: Facebook)

Daniel Radcliffe, die akteur wat die rol van Harry Potter in dié uiters gewilde en gelyknamige rolprentfranchise vertolk het, gaan eersdaags op die grootskerm verskyn as die musikant Weird Al Yankovic.

Die 32-jarige akteur was bykans onherkenbaar as Yankovic op die stel van die opkomende biografiese fliek, WEIRD: The Al Yankovic Story, wat vroeër vandeesmaand met produksie in Los Angeles begin het.

Yankovic (62) het gesê hy is “absoluut opgewonde” dat die Harry Potter-ster hom gaan vertolk in ʼn fliek wat op die Roku Channel gaan debuteer.

“Ek het geen twyfel dat dit ʼn rol is waarvoor toekomstige generasies hom sal onthou nie,” het Yankovic gesê.

Yankovic maak sedert sy tienerjare grappige weergawes van radiotreffers. “Toe my laaste fliek, UHF, in 1989 uitgereik is, het ek ʼn belofte aan my aanhangers gemaak dat ek ʼn groot fliek elke 33 jaar sou uitreik. Ek is bly om te sê dat ons op skedule is,” het hy geskerts.

Bronne: E! News, People.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.