Katy Perry moet opdok oor gesteelde liedjie

Katy Perry by die 10de jaarlikse DVF-toekennings by die Brooklyn Museum in New York. (Foto: Andy Kropa/Invision/AP)

Die Amerikaanse popster Katy Perry sal moontlik miljoene dollars moet opdok nadat ʼn federale hof in Kalifornië bevind het sy het ʼn Christelike kletsrymliedjie gedeeltelik gesteel vir haar 2013-treffer “Dark Horse”.

ʼn Jurie het Maandag eenparig beslis in die guns van Marcus Gray en sy twee medeskrywers. Gray het in 2014 met regstappe teen Perry begin en aangevoer “Dark Horse” is gesteel vanaf “Joyful Noise”, ʼn liedjie wat Gray onder sy verhoognaam Flame uitgebring het.

Die hofverrigtinge word vandag voortgesit om te bepaal hoeveel skadevergoeding Perry en die ander beskuldigdes sal moet betaal vir die kopieregskending. Dié bedrag sal onder meer afhang van hoeveel geld “Dark Horse” vir Perry en die skrywers van die liedjie in die sak gebring het.

Die video van “Dark Horse” was die eerste video van ʼn kunstenares om meer as ʼn miljard kyke op YouTube en Vevo te behaal.

“Dark Horse” het Perry ook ʼn Grammy-nominasie besorg en was deel van haar oordadige Super Bowl-optrede in 2015.

Perry se regspan het tydens die hofverrigtinge aangevoer die musikale elemente wat volgens die klaers by “Joyful Noise” gesteel is, is “basiese boublokke van musiek” wat beskikbaar is aan almal. Perry en die ander skrywers van die liedjie het ook getuig dat hulle voor die hofsaak nog nooit “Joyful Noise” of enige van Gray se ander musiek gehoor het nie.

Gray se regspan het egter aan die hof bewys dat “Joyful Noise” glad nie so onbekend is soos die beskuldigdes wil voorgee nie. Hulle het bewyse by die hof ingedien dat die liedjie al miljoene kere op YouTube en Spotify geluister is, en dat die album waarop dit verskyn vir ʼn Grammy genomineer is.

“Dark Horse” én “Joyful Noise” is in die hof aan die jurie gespeel.

Die jurie het daarna bevind die spesifieke ritme en musiekfrases van “Joyful Noise” is uniek genoeg dat dit aan kopiereg onderhewig kan wees.

Jurielede het beslis dat al ses liedjieskrywers en al vier maatskappye wat betrokke was by die vrystelling en verspreiding van die liedjie, onder wie Perry en Sarah Hudson, wat die liedjie se liriek geskryf het, en Juicy J, wat slegs die kletsrym-gedeelte van die liedjie geskryf het, aanspreeklik gehou gaan word.

Die ander beskuldigdes in die saak sluit in Capitol Records, asook Perry se vervaardigers, Dr. Luke, Max Martin en Cirkut, wat die liedjie se ritme uitgedink het.

Perry was nie in die hof teenwoordig toe die uitspraak gelewer is nie.

“Dark Horse” is ʼn mengsel van pop, trap en hip-hop-klanke, en was die derde enkelsnit van Perry se 2013-album Prism. Die liedjie was vier weke lank boaan die Billboard Hot 100-treffersparade toe dit vrygestel is.

Perry se reklamebeampte het nie ná afloop van die hofuitspraak gereageer op versoeke vir kommentaar nie.

Luister hier of jy die ooreenkomste tussen die twee liedjies kan hoor:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Franna ·

Ag twak! Daars geensins ooreenkomste in die liedjies nie! Net weer ‘n ‘wannabee’ wat wil ry op ander se roem en geld wil kry wat hy nie self kan maak nie!

Zettie ·

Sjoe…….die mense moes maar fyn luister, want ek kon nie ooreenkomste hoor tussen die 2 liedere nie…….

Nika ·

snaaks hoe die Here aanbid word in die een liedjie en die ander liedjie baie baie donker is.

Zettie ·

Baie mooi geluister. Na aanleiding van jou kommentaar het ek weer gaan luister en wraggies ek kon dit ook nou hoor.

Pieter ·

Ek kan dit baie duidelik hoor in die musiek (nie die sang).

Dis ironies dat die oorspronklikr ‘n Christelike liedjie is en die namaaksel ‘n hoop okkultiese tekens en gemors bevat.

Schalla ·

Watter een was eerste? “Twinkle twinkle little star” of die alfabet liedjie (“A-B-C-D-E-F-H”)? Want watter een ookal eerste was gaan die wit waks uit die ander een dagvaar vir gebruik van dieselfde deuntjie na hierdie hofsaak!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.