Komediant Schalk Bezuidenhout vra die jawoord

Schalk Bezuidenhout en Mica McKechnie. (Foto: Instagram)

“Sy het gesê, ‘ja, okay, fine’.” Dit is hoe Suid-Afrika se snorseun, ook bekend as Schalk Bezuidenhout, sy verlowingsnuus op sy sosiale media-blaaie gedeel het.

Bezuidenhout het Dinsdagaand op een knie voor sy meisie van twee jaar, Mica McKechnie, gegaan. “Dit was eintlik maar net ʼn grap vir Instagram, my meisie was baie opgewonde toe ek haar gevra het om met my te trou.

“Ons het by die restaurant waar ons ons eerste afspraak gehad het, die Brian Lara Rum Eatery, in Linden, gaan eet. Dit is so ʼn minuut se stap van ons huis af, en ek het die restaurant uitgeboek. Dit is nie eintlik oop op ʼn Dinsdagaand nie, maar ek het onder valse voorwendsels en met die hulp van ʼn vriendin haar daar gekry,” vertel die komediant aan Maroela Media.

Direk na sy ja gesê het, het Bezuidenhout haar verder verras met al hulle vriende en familie. “Hulle het almal gesit en wag in ʼn kroeg wat daar naby was. Ek sien altyd as vriende en so verloof raak, wil hulle almal bel en vertel. Vyf minute later het ons sommer ons verlowingspartytjie gehou.”

Bezuidenhout vertel hy het juis nou die jawoord gevra, in plaas van op ʼn vakansie wat hulle later vanjaar in Switserland gaan hou, omdat dit dan “te obvious” sou wees. “Ek het haar heeltyd vertel van hierdie dorpie, Montreux, wat ek haar wil gaan wys. Dis die mooiste plek wat ek al ooit in my lewe gesien het. Dis ook waar Freddie Mercury oorlede is.”

Toe verras hy haar. “Sy het absoluut geen, geen, geen idee gehad ek gaan haar vra nie.”

Oor hoe die paartjie mekaar ontmoet het, vertel Bezuidenhout dat hulle deur ʼn gemeenskaplike vriendin aan mekaar voorgestel is en so ʼn paar keer mekaar weer in die verbygang gesien het.

“Ek het eendag weer in Johannesburg gewerk en toe gedink ek wil eintlik vir daai Mica-meisie ʼn boodskap stuur om saam met my iets te gaan drink. Ek het amper dadelik vir haar gesê dat ek nie nou tyd het vir speletjies nie; ek was te besig en net in ʼn geen nonsens-fase in my lewe. Ek het geweet wat ek wou hê.”

Hulle volgende afspraak was toe sommer die volgende aand. “Ons het net geclick.”

Gevra of hulle al enige idee het van hoe, waar en wanneer hulle gaan trou, sê Bezuidenhout dat dit nie gou sal wees nie, omdat hy en McKechnie, wat in die kunsdepartement in die filmbedryf werk, albei baie besig in hulle onderskeie werke is.

Schalk Bezuidenhout en Mica McKechnie. (Foto: Facebook)

“Ons is nie die soort mense wat na twee maande van verlowing sal trou nie en ons is glad nie haastig nie. Dalk na twee jaar. Komediante is ook maar baie besig aan die einde van die jaar, omdat ons baie jaareindfunksies en so doen, so troue beplan is nou die laaste ding op die agenda. Ons sal eers wanneer ons skedules bietjie kalmeer het, iewers in volgende jaar, begin trouplanne maak. Vir nou geniet ons eers om verloof te wees, want dis lekker.”

Bezuidenhout het onlangs op die stel van Material 2, die film wat losweg op die lewe van Riaad Moosa, ook ʼn komediant gebaseer is, gewerk. Op 2 November sal Bezuidenhout saam met Stuart Taylor, John Vlismas, Tumi Morake en Jason Goliath in die Big Five Comedy Show by die Grand Arena, GrandWest, in Kaapstad, te sien wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Annoniem ·

Hy is regtig n goeie ou. Kom uit n goeie ouerhuis ook. Mag jul gelukkig wees.

Belangstel ·

Baie Geluk Schalk en Mica. Hoop julle is baie jare saam.

susan ·

Baie geluk. Wat is dan die doel van verloof as jy nie Gou Wil trou?

Leon ·

Ek het saam met ‘n omie gewerk wat vir my gesê het, jy moet eers ‘n sak sout met jou verloofde opeet voordat jy trou. Hy vertel dat sy aanstaande skoonpa vir hulle twee sakke gegee het. Hy was ‘n bietjie oor die twee jaar verloof voordat hy getroud is. Goeie idee. dan kan jy presies uitvind of julle pas. Nie binne maande na die troue ontdek, maar ons pas nie bymekaar nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.