Luister: Aangrypende Karoodrama beloof om luisteraars te boei

Die span agter ‘Katbosbult’. (Foto: Marius Vermaak/Maroela Media)

Katbosbult is ʼn tipiese Karoodorpie met sy bekoring van Boerneef se Katbos en Kambro, asook sy dwergvetplante. Sedert 2019 is dié vetplante gesogter en meer lonend as renosterstropery.

Dit is juis die tema wat deur Maroela Media se jongste radiodrama, Katbosbult, vloei.

“Seldsame vetplante word by die kilogramme uitgevoer,” vertel Bettie Kemp, die regisseur en vervaardiger van die vervolgverhaal. Haar bekende stem sal ook in die drama te hore wees.

“Dit kry nie soveel aandag nie, maar dit is ʼn groot krisis.”

Bettie is sedert 2012 betrokke by die skep van radiodramas by Maroela Media. Sy het destyds by Susan Lombaard, die uitvoerende hoof van Maroela Media, aangeklop om die moontlikheid van ʼn radiodrama te bespreek.

“Ek het onmiddellik ʼn warm gevoel teenoor drama by Susan gekry,” onthou Bettie.

Die bal vir die eerste radiodrama, Vendetta, is toe aan die rol gesit. Daarna het daar jaarliks ʼn radiodrama vanuit Maroela Media se ateljee verskyn.

Bettie ag dit nie net as ʼn noodsaaklike bron van storievertel nie, sy glo dat dit werk skep en ʼn gulde geleentheid is vir nuwelinge om die waters van ʼn radio-vervolgverhaal te toets.

“En as jy mooi daaraan dink: Jy moet eers voor jou televisie gaan sit voordat jy ʼn lekker drama kan kyk. Met dié drama is dit sommer op jou foon,” vertel Bettie.

“Radiodramas is bereikbaar vir mense, en mense is versot op stories.”

(Foto: verskaf)

Katbosbult is ʼn mikrokosmos van Suid-Afrika. Daar is diegene met edele harte en opregte pogings om die gemeenskap op te hef, maar midde-in die armoede en ellende gedy die misdaad, die afguns en die geskinder op die dorp.

Die 120 episode-vervolgverhaal, geskryf deur Joe Kleinhans, word deur ʼn verskeidenheid van kleurryke karakters vertel.

Dié karakters word onder meer deur Ria Smit, Anton Dekker, Antowan Nöthling, Stefan Vermaak en Izel Bezuidenhout vertolk. Kaz McFadden en Rika Nieuwoudt maak hul buiging as nuwelinge in Maroela Media se radiodrama-ateljee.

  • Luister boaan die teks na ’n lusmakertjie van Katbosbult.
  • Katbosbult sal van 29 Mei op verskeie gemeenskapradiostasies uitgesaai word en van 12 Junie kan jy dit op Maroela Media kom luister.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.