Pragfoto’s: Cambridge-kroos se eerste dag by nuwe skool

Kate, William en hul kroos arriveer by die Lambrook School. (Foto: Jonathan Brady/Pool/AFP)

In die openbaar het Kate Middleton en prins William se kinders koninklike titels en takies, maar vandeesweek het die egpaar en hul drie kinders soos ʼn gewone gesin gelyk toe hulle ʼn verwelkomingsgeleentheid by hul kroos se nuwe skool in Windsor bygewoon het.

Die hertog en hertogin van Cambridge en hul kinders, prins George (9), prinses Charlotte (7) en die vierjarige prins Louis, het Woensdagmiddag dié geleentheid by Lambrook School, naby Ascot in die suide van Engeland, saam met al die skool se nuwe leerders en ouers bygewoon om die kleingoed meer vertroud met hul nuwe omgewing te maak voor die nuwe kwartaal begin.

Donderdag is hul eerste amptelike skooldag.

Die kleingoed ontmoet hul nuwe skoolhoof. (Foto: Jonathan Brady/Pool/AFP)

Lambrook is ’n private skool vir kinders tussen die ouderdomme van vier tot 13 jaar oud en teen die skool se tariewe sal dit tans meer as £50 000 (R950 000) kos om drie kinders vir ʼn jaar by dié skool in te skryf.

Die Cambridge-kroos is egter nie die eerste koninklike kinders wat hul opvoeding by Lambrook ontvang nie. Volgens Lambrook se amptelike webblad was twee van koningin Victoria se kleinseuns ook destyds in dié spogskool.

Dié skuif volg nadat Kate en William vroeër vanjaar aankondig het dat hulle besluit het om van hul Londense woonstel by Kensington-paleis in Londen na Adelaide Cottage naby Windsor-kasteel (waar koningin Elizabeth II die meeste van die tyd woon) te verhuis.

Luidens mediaberigte wil die egpaar met dié skuif vir hul kinders die “mees normale” skoolloopbaan moontlik bied. “Kensington-paleis kan ’n bietjie soos ’n vistenk wees,” het ʼn koninklike bron aan AFP oor dié skuif gesê.

Koninklike kenner Omid Scobie het aan Yahoo! vertel dat die paartjie tans hul nuwe vierslaapkamerwoning huur en daar word ook vermoed dat hulle self hul eie geld vir moontlike huisopknappings sal gebruik.

Meghan en Harry tydens ‘n onlangse geleentheid in die Verenigde Koninkryk. (Foto: Oli Scarff)

Die Cambridge-gesin se nuwe woning is glo ʼn klipgooi van Kate se ouers, Michael en Carol Middleton, af en die Daily Mail het berig dat die hertogin se suster, Pippa, ook saam met haar gesin binnekort na dié deel van die Britse platteland wil verhuis.

Prins Harry en Meghan Markle, die hertog en hertogin van Sussex, is tans ook in die Verenigde Koninkryk om verskeie welsynsgeleenthede by te woon.

Hoewel Adelaide Cottage nie te ver van Frogmore Cottage (prins Harry en Meghan Markle se woonplek in die Verenigde Koninkryk) is nie, het AFP verder berig dat dié twee paartjies nie noodwendig binnekort by mekaar vir ʼn koppie tee gaan aanklop nie.

Betrekkinge tussen die hertog en hertogin van Sussex en die res van die Britse koninklike familie is klaarblyklik steeds gespanne en die paartjie het ook nie bevestig of hulle die koningin tydens hul besoek aan Brittanje sal besoek nie.

Bronne: AFP, Yahoo!, Daily Mail.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Witbaard ·

As hulle wil hê die kinders moet n “normale” skoollewe hê, sit hulle dan in n gewone skool tussen rêrige gewone mense.

Perdeby ·

Hullle het mos ‘n normale skoollewe hulle kry nie tuisonderig by die huis nie.

Nici ·

Miskien kan die joernalis wat hier skryf die korrekte titels en gebruike navors ipv om die twee duchesess se nooiensvanne te gebruik.

Nettie ·

Vlug almal uit Londen uit? Na die waarskuwings uit die Ooste van hoeveel sekondes dit gaan neem vir ‘n “nuke” om Londen te bereik? Ek sou ook!

Voilet ·

R950 000 vir ‘n jaar in n normale skool??? ek dooi net daar

Of word hul uit gebuit?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.