Prinses Beatrice gaan ma word

Prinses Beatrice en Edoardo Mapelli Mozzi op hulle troudag in Julie 2020. (Foto: Twitter/@RoyalFamily)

Die Britse koningshuis het in ʼn Twitter-plasing aangekondig dat prinses Beatrice, oudste dogter van prins Andrew en die hertogin van York, Sarah Ferguson, swanger is.

Die baba sal later vanjaar gebore word.

Dit is die prinses (31) en haar man, die eiendomsmagnaat Edoardo Mapelli Mozzi (36), se eersteling. Die egpaar het in Julie verlede jaar by die All Saint-kapel by Windsor in die huwelik getree.

Luidens die aankondiging is prinses Beatrice se ouma, die 95-jarige koningin Elizabeth II, in kennis gestel van die swangerskap.

“Albei families is oorstelp van vreugde oor die nuus.”

Prinses Beatrice se jonger suster, prinses Eugenie (30), het in Februarie vanjaar die lewe geskenk aan ʼn seun, August. Sy is getroud met die sakeman Jack Brooksbank.

Koningin verloor ʼn hondjie

Intussen berig AFP dat die koningin in rou gedompel is oor die dood van een van die twee babahondjies wat sy voor prins Philip se afsterwe as geskenk gekry het.

“Die koningin is absoluut verpletter,” het ʼn bron uit die Windsor-kasteel aan The Sun gesê.

“Almal wat betrokke is, is ontsteld aangesien dit so gou gebeur het nadat sy haar man verloor her.”

Die koningin het haar man van 73 jaar in April aan die dood afgestaan en het vertroosting gevind in die vyf maande oue hondjies Muick en Fergus. Fergus het onverwags gesterf.

Prinses Beatrice en haar man Edoardo Mapelli Mozzi op hul troudag. (Foto: Benjamin Wheeler/The Royal Family, Twitter)

Volgens berigte het prins Andrew in Februarie die koningin verras met die twee “dorgi”-babas (ʼn kruising tussen ʼn worshond, ook bekend as ʼn dachshund, en die koningin se geliefde corgi-ras), in ʼn poging om haar op te beur toe die 99-jarige prins Philip in die hospitaal opgeneem is vir ʼn hartprosedure.

Die Buckingham-paleis het nie kommentaar gelewer nie.

Die 95-jarige koningin was ʼn ywerige teler van corgis, ʼn kortbeen Walliese ras. Sy het dit weens haar ouderdom laat vaar, maar was volgens The Sun opgewonde oor die nuwe babahondjies.

Fergus is vernoem na die koningin se oom, Fergus Bowes-Lyon, wat in die Eerste Wêreldoorlog gesterf het.

Muick is die naam van ʼn loch op ʼn Skotse koninklike landgoed by Balmoral. Die koningin het nog een ouer dorgi genaamd Candy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.