Prinses Charlene se donker kapsel laat koppe draai

Prinses Charlene by die Monaco-Grand Prix. (Foto: Jakub Porzycki/NurPhoto via AFP)

Max Verstappen het dalk Sondag met die louere in Monaco weggejaag tydens die 80ste Monaco-Grand Prix, maar ʼn ander bekende donkerkop het ook die aandag gesteel.

Prinses Charlene van Monaco het Sondag tydens dié swierige en adrenalienbelaaide geleentheid die koppe laat draai en met ʼn nuwe donker kapsel gepronk.

Sy het haar man, prins Albert II, na die motorwedren vergesel en die renjaer en tweedeplekwenner, Aston Martin se Fernando Alonso, se trofee oorhandig, terwyl Albert een aan Red Bull se Max Verstappen vir sy oorwinning gegee het.

Hoewel die prinses se nuwe haarkleur ’n afwyking van haar gewone platinumblonde hare is, is haar kapsel steeds in sy kenmerkende kort styl geknip.

Dié voormalige Olimpiese swemmer en ma van twee het ʼn donkerblou geplooide rok met reënbooggekleurde strikke van die Switserse modehandelsmerk, Akris, gedra.

Sy het verder getrou gebly aan haar minimalistiese styl en haar ontwerpersrok, wat £3,605 (sowat R88 000) kos, met slegs ‘n paar klein oorbelletjies en swart gemanikuurde naels afgerond.

Die prinses en haar man het gehelp om die renjaers se trofees te oorhandig. (Foto: Jakub Porzycki/NurPhoto via AFP)

Die 45-jarige, wat in Suid-Afrika grootgeword het, het Sondag diep in gedagte tydens die Grand Prix gelyk – wat weer groot reaksie op sosiale media uitgelok het.

Verskeie Twitter-verbruikers het opgemerk dat sy “hartseer” of “ongelukkig” lyk, en hoewel dit nie ongewoon is vir die prinses om teruggetrokke tydens publieke uitstappies te lyk nie, is daar bespiegel oor die stand van haar huwelik en geestesgesondheid.

Maroela Media het vroeër berig dat Charlene in Maart 2021 na Suid-Afrika gereis het vir haar bewaringswerk met renosters. Sy was agt maande lank in die land gestrand nadat sy ʼn ernstige oor-, neus- en keelinfeksie opgedoen het.

Die prinses het in September 2021 ʼn operasie in Suid-Afrika ondergaan nadat sy ineengestort het weens komplikasies verbonde aan dié infeksie.

Sy is eers in Maart 2022 weer met haar gesin Monaco herenig, wat daartoe gelei het dat verskeie oorsese publikasies beweer het dat die prinses ongelukkig en eensaam is en uit die prinsdom na Suid-Afrika gevlug het.

Prinses Charlene en haar man, prins Albert II. (Foto: Beata Zawrzel/NurPhoto via AFP)

Prins Albert en verteenwoordigers van die prinses se welsynsorganisasie het sedertdien bewerings van huweliksprobleme in die media afgeskiet.

Die paleis het ook vroeër vanjaar weer “kwaadwillige” gerugte van ‘n huweliksbreuk tussen die prins en prinses ontken, en die egpaar is gereeld aan mekaar se sy tydens koninklike verpligtinge en geleenthede, soos die kroningseremonie van koning Charles III, gesien.

Bronne: People, Hello, Daily Express, Tatler.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Bre ·

Eet miskien te veel suur pruime voordat sy in die publieke oog tesiene is

Nettie ·

Vir die van ons wat (oud genoeg is om te) onthou, lyk sy PRESIES soos wat prinses Di gelyk het in die maande/jare voor haar egskeiding. Ai, ek hoop sy gaan oukei wees.

Erika ·

Op al haar fotos lyk so sy sielsongelukkig of is dit net ek wat so dink?

Bre ·

Ek stem. Soos in: Kry my asseblief jammer. Nonsens. Jy maak jou eie bed op. So, maak die beste van dit wat jy het EN sy het baie.

Bre ·

Ek stem. Soos in: Kry my asseblief jammer. Dis nonsens. Jy maak jou eie bed op. So, maak die beste van dit wat jy het EN sy het baie.

Niklaas ·

Sy het beslis nie die aangenaamste en maklikste lewe aan Albert se sy nie.

Linda ·

Mense maak dikwels hulle eie afleiding gegrond op die persepsie van wat hulle dink hulle sien.
Alle mense smile nie van oor tot oor nie en dit beteken nie hulle is dikbek nie.

Vonny ·

Ek kan nie eens sè kom terug SA toe nie.
Hier gaan jy nog MEER sad lyk!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.