Sanger nou pa van twee dogtertjies

Die foto wat Vaughan gedeel het van 'n pasgebore Noëlle. (Foto: Facebook)

Die foto wat Vaughan gedeel het van ‘n pasgebore Noëlle. (Foto: Facebook)

Die gewilde sanger en liedjieskrywer, Vaughan Gardiner, en sy vrou, Nerine, het Woensdag ʼn tweede pienkvoet ryker geword.

Noëlle Catherine Gardiner is op 14 November om 14:01 gebore en het 2,72 kg geweeg. Die sanger het dié nuus op sy Facebook-profiel bevestig.

“Ons liewe Noëlle is hier!” het Gardiner geskryf by ʼn foto van hom, Nerine en die pasgebore Noëlle. “Een dag ná Nerine se verjaarsdag. Mamma en baba is ok [sic], Noëlle is in NICU, maar ons bid en glo sy sal vinnig weer in ons arms wees.”

Noëlle het ook ʼn ouer sussie, Ameline Françoise, wat in Junie 2016 gebore is. Gardiner het in Junie vanjaar in ʼn onderhoud met Maroela Media gesê Ameline, ʼn verbinding van ʼn familienaam, is opgewonde oor die koms van haar babasussie.

'n Pragtige gesinsfoto van Vaughan, Nerine en Ameline voordat klein Noëlle haar opwagting gemaak het. (Foto: Facebook)

‘n Pragtige gesinsfoto van Vaughan, Nerine en Ameline voordat klein Noëlle haar opwagting gemaak het. (Foto: Facebook)

“Ek en Nerine is albei ook ongelooflik opgewonde,” het hy gesê. “Ons voel dié keer meer voorbereid; ons het darem mos nou al twee jaar ʼn paadjie met klein Ameline gestap. En dis tog anders: ek is meer opgewonde as bang vir die onsekerheid hierdie keer. Ons weet nou wat voorlê. Of altans, ons weet wat om vir die eerste twee jaar van die nuweling se lewe te verwag. Ons is darem voorbereid; ons het nog altyd vir mekaar gesê dit sou wonderlik wees as ons kinders so twee jaar uiteen kon wees.”

Nerine het in 2014 op agt weke swangerskap ʼn miskraam gehad. Die sanger het gesê hulle het destyds gehoor Nerine het ʼn tekort aan ʼn sogenaamde proteïen-s waarvoor sy tydens haar swangerskappe met Ameline en Noëlle behandeling moes ontvang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.