Fliekresensie: Kinderhandel-fliek is ‘witwarm van woede’

SOUND OF FREEDOM
⭐⭐⭐⭐⭐⭐⭐⭐ (8/10)
Met Jim Caviezel en Manny Perez
Regisseur: Alejandro Monteverde
(In teaters)

Hierdie is moontlik die mees veelbesproke rolprent van die jaar. Deur sakemanne en doodgewone mense te vra om daarin te belê, en deur ʼn omstrede reklameveldtog (“die rolprent wat Mission Impossible onttroon het!”) het hierdie ware verhaal die VSA wakker geskud.

Nie alle resensente was egter so genadig teenoor die rolprent soos in hierdie resensie nie.

Dit gaan oor ʼn Amerikaanse agent, die onverskrokke Tim Ballard (simpatiek en vasberade vertolk word deur Jim Caviezel, wat destyds die rol van Christus in The Passion of the Christ gespeel het) wat pedofiele ontmasker het.

Hy het sy lewe dikwels gewaag, veral in Colombië, om die sluikhandel in kinders te ontmasker en ook om toe te slaan op die oortreders wat kinders as seksslawe verkoop.

Jim Caviezel. (Foto: IMDb)

Die rolprent is woes-emosioneel en witwarm van woede. Dit is dikwels soos ʼn stoomtrein wat voortsnel en aanval. Dit skram nooit van die werklikheid weg nie. Daar is tonele waarop sensitiewe kykers gewys word, waar Ballard tot indringende aksie moet oorgaan om geregtigheid te laat seëvier.

Sommige daarvan is intens en selfs skrikwekkend, maar dikwels is ʼn harde skreeu meer werd as ʼn sensitiewe fluistering om ʼn boodskap kragdadig oor te dra.

Aanbeveel as jy genoeg moed het. Sit tot die einde wanneer Ballard self gedurende die slottitels verduidelik wat nog steeds gebeur.

Slegs in teaters.

8/10

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.