Gee kans voor jy nuwe ‘Little Mermaid’ as bloot ‘polities korrek’ afmaak

Halle Bailey betower as Ariel in ‘The Little Mermaid’. (Foto: Verskaf)

As ʼn selferkende The Little Mermaid-fanatikus, én lid van die koor van skeptici wat met vooropgestelde idees by dié fliek se 2023-weergawe se mediavoorvertoning ingestap het, het ek eintlik net een ding om te sê nadat ek dit uiteindelik self kon kyk; ek gaan eerskomende naweek betaal om wéér dié herlewing van my gunsteling-animasieprent op die groot skerm te sien.

My pleidooi aan die wat skepties is oor die jongste weergawe van dié Disney-treffer is om nie toe te laat dat jou opinie van die fliek deur die onbillike en rasbelaaide sosiale media terugslae wat dit tot nou toe moes trotseer, oorskadu word nie.

As Disney polities korrekte punte wou wen met hul besluit om die sangeres en aktrise, Halle Bailey, vir die rol van Ariel te kies, is hul broodjie eintlik nou aan albei kante gebotter want dié talentvolle 23-jarige sal Disney-liefhebbers se harte wen en terselfdertyd kritici se koppe swaai.

Met haar lang wimpers, kinderlike onskuld, kenmerkende Disney-prinses glimlag en suiwer, kragtige stem, is dit gʼn wonder dat The Little Mermaid-regisseur, Rob Marshall ʼn mediaherrie gewaag het om die talentvolle Bailey as sy nuwe Ariel te kies.

‘n Skermgreep uit die fliek. (Foto: Verskaf)

Die begeesterde Bailey, een helfte van die Grammy-benoemde duo, Chloe x Halle, staan dié geliefde rooikop seewaterprinses se skoene – of is dit eerder stert – vol en gee vir haar diepte en warmte wat kenmerkend aan ʼn Disney-prinses is.

Haar weergawe van “Part of Your World” is ʼn ware hoenderveloomblik en sal maak dat kritici wat oor dié jong aktrise se talent getwyfel het, hul woorde vinnig sluk.

Die 2023-weergawe karring ook gelukkig nie veel aan die oorspronklike 1989 animasieprent se storielyn nie. Ariel, ʼn jong en rebelse meermin wat teen haar pa se wense deur die mensewêreld gefassineerd is, word verlief op die menseprins Eric nadat sy hom van verdrinking red.

Bailey sal vinnig kykers se harte as ‘n Disney-prinses wen. (Foto: Verskaf)

Danksy die towerkrag van die seeheks, Ursula, gee Ariel haar pragstem en meerminstert prys in ʼn poging om deel van die mensewêreld te wees.

Aanhangers wat die oorspronklike fliek woord-vir-woord geken het, sal egter agterkom dat enkele tonele aangepas is en twee liedjies uitgelaat is om plek te maak vir drie nuwe oorspronklike liedjies uit die pen van Lin-Manual Miranda, wat musiek vir Disney-flieks soos Encanto en Moana geskryf het.

Lirieke van die treffer “Kiss the Girl” is ook effens aangepas om by te hou met moderne, post #MeToo-tye, maar dié veranderinge is nie opvallend nie.

Prins Eric, vertolk deur die Britse akteur Jonah Hauer-King, se donker krulle en kuiltjies maak van hom die perfekte Disney-prins, maar sy karakter se storielyn word ook in die nuwe weergawe verdiep.

Jonah Hauer-King en Bailey se karakters kry meer tyd om mekaar te leer ken in dié weergawe. (Foto: Verskaf)

Nie net kry die prins ʼn agtergrond verhaal en sy eie Broadway-geïnspireerde lied nie, maar spog ook met sy eie vertrek vol skatte soortgelyk aan dié waarin Ariel haar tierlantyntjies van die mensewêreld onder die see wegsteek.

Die nuwe The Little Mermaid gee die meermin en haar prins ook meer kans om mekaar te leer ken en laat dié Ariel besef dat sy nie net bene wil hê om by haar prins te wees nie, maar ook om vrede tussen die meermin- en mensewêreld te help kweek.

Melissa McCarthy se kleurvolle en dramatiese vertolking van die seeheks Ursula is so eg aan die tekenprentkarakter, dat mens skoon sukkel om onderskeid tussen die twee te tref. Ongelukkig word sy letterlik deur Disney se nuwe kenmerkende donker animasiestyl en haar oordadige tentakels oorskadu.

Melissa McCarthy as die seeheks Ursula. (Foto: Verskaf)

Die fliek se fotorealistiese styl beteken ongelukkig ook dat Ariel se seediertjiemaats, die krap Sebastian, seemeeu Scuttle en vissie Flounder, nie soos hul animasie eweknieë lyk nie – iets wat my innerlike sesjarige nog nie heeltemal wil aanvaar nie.

Die akteur Daveed Diggs, wat sy vrolike stem en Karibiese aksent aan Sebastian verleen, help egter om lewe aan dié geliefde krap te gee, maar Flounder kon waaragtig maar meer blou en geel gewees het as die vaal vissie wat kykers op die skerms sien.

Tonele soos dié waar Sebastian se karakter “Under the Sea” vir Ariel sing, lyk natuurlik ook heelwat anders as die tekenprentweergawe, maar is kleurvol en kreatief genoeg aangepas om die kleingoed te laat dink dat hulle in ʼn akwarium van singende seediertjies is.

Kykers gaan dalk teleurgesteld wees om te sien hoe Ariel se seediertjiemaats in die nuwe fliek lyk. (Foto: Verskaf)

Waar die animasie van hierdie weergawe dalk met tye teleurstel, bly die oorspronklike The Little Mermaid-liriekskrywer Allen Menken se liedjies hartroerend en nostalgies. Dít, tesame met Bailey se natuurlike en passievolle vertolking van Ariel, is tot ʼn mate dié fliek se reddingsboeie.

Disney het ongelukkig keer op keer bewys dat hul herverwerkings nog nie heeltemal kan kers vashou by die oorspronklikes nie, maar fliekgangers wat The Little Mermaid ʼn regverdige kans met ʼn oop kop én oop hart gee, sal dalk vir twee ure weer hul innerlike kind herroep en wens om deel van Ariel se wêreld te wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Diepoppie ·

Jys op jou eie daar.. The little mermaid was een van my gunstelling stories, maar gaan die live action een skip gee. Dink nie die waargawe is wat Hans Christian Anderson ingedagte gehad het nie!

Anel ·

Hou maar verby. So moeg daarvan dat vermenging in ons kele af gedwing word.

Andrew ·

Dankie, sal maar pass. Disney in elkgeval voorbok met die idiologiese geslags nonsens so kan in geheel ook maar pass.

Arno ·

Ek geniet net dié wat nie polities korrek probeer wees nie. Die res skip ek. Guardians of the Galaxy en die Spiderman films was pret gewees om te kyk, maar meeste van die res was maar gemors.

Ek kyk ook eers deur ‘n paar reviews. As ek enige reuk kry van politiek in ‘n film, dan boycot ek dit. So maklik soos dit.

Miena ·

Ek dink sal dit graag wil kyk. Ek het nooit vantevore die oorspronklike Lion King gekyk nie maar wel die laaste uitgawe van hom en ek het dit vreeslik geniet.

Arno ·

So lyk my jy is okay met die raswette soos wat dit is op die oomblik is dan. Ek dink ook nie jy kan die raswet situasie vergelyk met dié situasie nie.

Daar is baie films wat deesdae gemaak word om nie-blanke kultuur te vier, maar dit het deesdae ‘n sonde geword om blanke kultuur te vier. Dit moet verbaster word.

ABDP ·

Ras vermenging dring in met my geloofsoortuiging. As die prins ook dieselfde ras was, sou dit meer aanvaarbaar gewees het. Maar die feit dat #MeToo ook ‘n vatplek kry, maak dit onaanvaarbaar, want wat kan alles nog “versteek” wees?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.