Jong kunstenaars opgewonde oor groeiende SA fliek-, TV-bedryf

Almero Welgemoed en Laura-Lee Mostert. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Die flieks en inhoud wat vanjaar deur jong en opkomende kunstenaars in die vermaakbedryf vir die 11de kykNET Silwerskermfees geskep is, bewys dié bedryf is gesond en honger vir meer.

Kortflieks soos Karen, Thrift tot die dood, Volle bors, ʼn Dood om stilte, As, Dans dat die biesies bewe, Die swart draak ontwaak en Koors het vanjaar al wat ʼn feesganger aan die gons, met ʼn hele rits van dié kortflieks wat vir ʼn Silwerskermfees-toekenning benoem is.

Karen is ʼn komedie en is geskryf deur Almero Welgemoed (25). Wanneer haar histerie oor ʼn  allergiese reaksie op ʼn misverstand uitloop, ry Susan (Laura-Lee Mostert) per ongeluk weg met ʼn handsak vol van ʼn koffiewinkel se kontant.

Die media beeld haar daarna as ʼn krimineel uit en sy maak opslae op die internet. Al genade vir Susan is om met die hulp van haar bombastiese ma (Franci Swanepoel) planne te maak om die geld terug te besorg aan die kelnerin wat haar bedien het.

Laura-Lee (27) is benoem as beste aktrise in ʼn kortfliek vir haar rol as Susan. Sy vertel aan Maroela Media sy het ʼn stadige begin in die bedryf gehad.

“Ek het drama studeer in die Kaap waarna [die akteur en komediant] Bouwer Bosch my raakgesien het en vir my verskeie rolle in advertensies en ander werk agter die skerms van verskeie produksies aangebied het.

“Bouwer is bevriend met Almero en toe ek van die fliek te hore kom en die skreeusnaakse teks lees, wou ek graag deel wees van die projek.”

Almero vertel die fliek is geïnspireer deur ʼn idee wat sy broer, Nico Welgemoed, aanvanklik gehad het.

“Hy het ʼn video op Instagram gesien wat hom aan ʼn storielyn vir ʼn fliek laat dink het. Ons het lank met idees gespeel en uiteindelik het die fliek so ontwikkel tot wat dit nou is.”

Dit is die laaste fliek waarin Franci te sien is. Sy is in Oktober verlede jaar op die ouderdom van 50 oorlede. Die span van die fliek is net vol lof vir dié geliefde aktrise.

Dit is vir Laura-Lee en Almero ewe hartseer dat Franci nooit die fliek gesien het nie.

“Sy was so plat op die aarde en het vir ons gesê sy hoop sy maak ons trots. Dink jou in om dit van iemand soos sy te hoor. Toe sy op die stel opdaag het ʼn mens net weer besef sy is ook net ʼn mens en sy het ons almal so mooi hanteer,” sê Almero.

“Vir jonger aktrises is dit so belangrik om ouer, gesoute aktrises te sien wat nie vol fieterjasies is nie,” sê Laura-Lee.

Anré Bouguenon. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

In Thrift tot die dood, met Anré Bouguenon in die hoofrol, bedryf die geheimsinnige Janel ʼn tweedehandse klerewinkel. Hier leef sy haar passie uit om nuwe lewe te gee aan klere wat nog ʼn  kans verdien.

Wanneer drie hipsters haar winkel besoek en vertel hoe hulle klere wil koop om op te sny vir hulle eie doeleindes, ontstel dit haar en probeer sy hulle oortuig om van plan te verander.

Ruth (Bouguenon), die groep se katterige leier, reageer minagtend en lag haar uit. Ruth se venyn het egter dodelike gevolge, want ou Janel is nie so skadeloos soos wat sy lyk nie.

Die fliek maak gebruik van poppespel en spesiale effekte om beweging aan die kledingstukke te gee, wat wraak wil neem op Ruth.

“Ek was van die begin af mal oor die teks en het dadelik ja gesê vir die projek. Dit is enige opkomende akteur se droom om te kom deel te wees van die Silwerskermfees en om storievertelling te kan beleef op hierdie vlak.”

Thrift tot die dood is vervaardig deur Duan Wanty. Arné Adriaan Boshoff het die draaiboek geskryf en die regie behartig. Regardt Visser het die redigering gedoen.

Anré (29), wat ook vir ʼn Silwerskerm-toekenning vir beste aktrise in ʼn kortfliek benoem is, vertel sy het heerlik met die klere gespeel.

“Ek het myself absoluut in daai wêreld gegooi en geglo daai klere is daar om my beet te kry,” lag sy.

Sy is opgewonde oor die nuwe stories en vars gesigte wat jaar na jaar op die grootskerms by die Silwerskermfees verskyn.

“Daar is ʼn verfrissende verskeidenheid van inhoud wat aangebied word en ons sien nie net dieselfde gesigte waaraan ons gewoond is nie.”

Die Silwerskermtoekenningsgeleentheid word môre (Sondag 27 Augustus) om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, uitgesaai.

Lees meer hier oor die kortfliekbenoemings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.