Kortflieks gesoek vir Silwerskermfees 2023

(Foto: Maroela Media)

Die kykNET Silwerskermfees wat volgende jaar vir die 11de keer aangebied word, bied weer vir aspirant-rolprentmakers en -draaiboekskrywers die kans om hulle storie-idees vir die kortfliekmentorskapprogram in te skryf.

Ná ʼn suksesvolle hibriede fees wat verlede week by The Bay Hotel in Kampsbaai en aanlyn aangebied is, is die inskrywings vir 2023 se fees nou oop.

Vanjaar het die kortfliek, Leemtes en leegheid, geskiedenis gemaak deur nie net die prys vir beste kortprent op te raap nie, maar ook as die gehoorgunsteling aangewys te word. Boonop borg die National Film and Video Foundation (NFVF) ʼn besoek vir dié kortfliek se vervaardiger en regisseur, Jordy Sank en Gabriella Blumberg, na een van die wêreld se vernaamste filmfeeste, die 2023 Berlinale in Berlyn.

Die Silwerskermfees het al vir menige toonaangewende Suid-Afrikaanse filmmaker ʼn wegspringplek vir ʼn loopbaan in die rolprentbedryf gebied. Kortflieks het vollengterolprente geword en talle regisseurs, skrywers en tegniese spanne het hul eerste treë in die bedryf by dié fees gegee. Sommige Silwerskermfeeskortflieks het ook al op die internasionale feesarena sukses behaal, waar dit dikwels met gesogte pryse weggestap het.

Vanjaar is die beoordelaars op soek na konsepte wat 80% dialoog in Afrikaans of enige Afrikaanse variëteit bevat, met geen voorkeur aan genre nie, en nuwe prente tussen 3 en 30 minute lank.

Die keuringsproses bestaan uit verskeie fases en die besluit oor watter konsepte uiteindelik vervaardig sal word, berus slegs by M-Net.

Die top-40 konsepte sal in Mei 2022 gekies word waarna ʼn verdere keuringsproses sal volg. Ná die keuringsproses se tweede fase sal suksesvolle aansoekers die geleentheid kry om die teks uit te brei, ʼn begroting op te stel en ʼn regisseursvoorlegging te doen. Indien die voorstel ná hierdie fase suksesvol is, sal die kortfliek se vervaardiger finansiering ontvang, asook die nodige leiding en mentorskap van die Silwerskermfees om uiteindelik die konsep te vervaardig. Die finale kortfliek moet teen November 2022 voltooi wees.

Het jy dalk die Silwerskermfees vanjaar misgeloop? Klik hier om alle berigte oor die fees op Maroela Media te lees. Jy kan ook nou na die kortflieks wat by vanjaar se fees gewys het op DStv Catchup kyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.