Leon van Nierop se resensie: Die verhaal van Racheltjie de Beer

“Die Verhaal van Racheltjie de Beer” sal in Oktober in teaters begin draai.

Die Verhaal van Racheltjie de Beer ***
Met Zonika de Vries en Antoinette Louw
Regisseur: Matthys Boshoff

Almal het op skool van Racheltjie de Beer geleer. Naas Japie Greyling, is sy die dapperste jongeling in ons geskiedenis. Haar legende is nou verfilm, en alhoewel dit onseker is of die legende werklik waar is (sommige mense beweer ʼn soortgelyke insident het in Amerika gebeur) het Matthys Boshoff ʼn pragtige rolprent gemaak.

Die wyd-uitgestrekte Oos-Vrystaat simboliseer die ongetemde land wat nog wag om bewoon te word, weergegee in lang, diep-fokus skote. Die huis waarin ʼn bejaarde egpaar woon (gespeel deur Marius Weyers en Sandra Prinsloo) saam met die weerlose Sara (ʼn skitterende vertolking deur Antoinette Louw) is klein, knus, maar eintlik ook ʼn gevangenis. Soos die plaas ook ʼn tronk word waaruit hierdie mense nie kan ontsnap nie. Dit word weerspieël in die weldeurdagte regie.

Herman (Stian Bam) en sy twee kinders met ʼn kalfie se pad kruis met die oumense s’n. Hier leer Racheltjie hoe om ʼn vrou te word, maar ook die tragedie van die verlede te verwerk, terwyl Herman baie stadig nader aan sy dogter begin beweeg, maar eers nadat dit te laat is.

Atmosferiese fotografie, uitmuntende vertolkings en professionele regie kenmerk hierdie rolprent met sy tipies-Suid-Afrikaanse voorkoms, sy indrukwekkende kunsregie, wat die tipiese huishouding van die 1800’s tydens die goudstormloop weergee, en spesiale effekte wat ʼn storm oortuigend naboots.

Dit sal in die smaak val van ondersteuners van Afrikaanse rolprente wat tydsaam ontvou en sy temas deeglik ontgin en ontwikkel. Ook van nostalgie-vrate. Die enigste probleem is dat die storie te dun is om ongeveer 100 minute te vul. Sommige insidente voel dus bietjie te lank en selfs onnodig en vertraag dikwels die gang.

Maar as die eerstelingrolprent van ʼn nuwe jong talent, verdien dit om gesien te word. ʼn Mens sien uit na Boshoff se volgende projekte.

Die fliek wys tans by SterKinekor en NuMetro

Leon van Nierop resenseer weekliks rolprente soos hierdie een op sy Facebook-blad. Besoek ook sy blad vir resensies oor rolprente met lokprente en interessante feite

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Simon ·

Het dit gaan kyk en was teleurgesteld. Hulle kon net sowel die rolprent die aand van storm genoem het want Racheltjie se karakter is oorskadu deur haar pa Herman. Gepraat van, sy karakter was een-dimensioneel en ek het niks vir hom gevoel nie. In my mening: 5 uit 10

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.