Leon van Nierop se resensie: Let him go

Let him go ***
Met Kevin Costner en Diane Lane
Regisseur: Thomas Bezucha

Hierdie pragrolprent begin bedrieglik eenvoudig sonder om te waarsku wat kom! ʼn Ouerige egpaar, die gesaghebbende Kevin Costner en ewe sterk Diane Lane, verloor hul geliefde perdry-seun. Sy weduwee (en haar seuntjie) trou met die verkeerde man, en Oupa en Ouma besluit om hul kleinseun se gaan red. Maar hulle loop hulle in ʼn addernes vas soos jy lanklaas op die silwerdoek gesien het. Meer wil mens nie verklap nie, behalwe om te waarsku dat daar nogal erge geweld is wat jou onverhoeds kan betrap.

Maar origens is dit aanvanklik ʼn rustige film wat die skoonheid van Amerika vier en die liefde tussen twee mense vasvang.

Weet net, as hierdie rustige rolprent eers spoed opgetel het, laat hy jou nie weer los nie. Skote klap, byle kap, mense bloei en die duiwel self bars op die aarde los. As jy al ooit in jou lewe ʼn bose vrou gesien het, is dit Lesley Mannville as ʼn ma uit die hel. Sy beheer haar seuns met ʼn ysterhand en sal tot die dood veg om die kleinseun te behou wat nie eers aan haar behoort nie.

Maar met Kevin Costner in beheer, ondersteun deur ʼn ystervrou wat by hom staan, moet dinge reg uitloop. Of sal dit? Dan daag ʼn wilde Indiaanse seun onverwags op.

Jy kan ʼn dag hiervoor opsy sit. Onthou, dit wys slegs in fliekteaters en sal jou die moeite loon om te gaan kyk.

Die fliek wys by Ster-Kinekor en Nu-Metro.

Leon van Nierop resenseer weekliks rolprente soos hierdie een op sy Facebook-blad. Besoek ook sy blad vir resensies oor rolprente met lokprente en interessante feite

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Renier ·

Klink na ‘n storie wat jou op die piunt van jou stoel gaan hou. Kan nie wag om dit te sien nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.