Resensie: MI6-reeks is ‘verteerbaar, boeiend’

TREASON
⭐⭐⭐⭐⭐⭐⭐/10
Met Charlie Cox en Olga Kurykenko
Skepper: Matt Charman
(Netflix)

Na al die lawaai oor prins Harry en Meghan Markle wil jy dalk net ʼn fiktiewe reeks oor jou laat spoel met net soveel politieke intrige, maar meer verteerbaar sonder om jou temperatuur op te jaag.

Dan mag die onverwagse verraad agter die Britse Intelligensiediens (MI6) se daaglikse doen en late jou tone kielie.

Die hoof van MI6 word vergiftig. Charlie Cox as Adam Lawrence, die tweede in bevel, neem oor. Maar kan hy vertrou word, of speel hy eintlik ʼn dubbel agent met ʼn ander agenda as patriotisme teenoor sy eie land?

Hoewel ingewikkeld, is die storie redelik maklik om te volg, veral wanneer ʼn Russiese spioen (die oortuigende Olga Kurylenko) skynbaar ʼn verbintenis met die nuwe MI6-hoof en sy verlede het.

Charlie Cox en Oona Chaplin in ‘Treason’. (Foto: IMDb)

En wanneer ʼn minister, wat haar oog op die eerste minister se pos het, boonop afgepers word deur duistere magte, raak sake lekker ingewikkeld.

Mense wat van politieke intriges hou waarin niemand vertrou kan word nie en ʼn sneller enige oomblik getrek kan word, kan lekker gemaklik hiermee vermaak word. Dis nie noodwendig ʼn vraatkykreeks nie, maar een waarin jy gemaklik tussen episodes na iets anders kan kyk sonder om die draad te verloor.

Verteerbaar, gemaklik op die oog en boeiend. Treason, ʼn reeks om saans na te kyk nadat jy moeg by die huis aangekom het. 7/10.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Elma ·

Ek het die reeks gekyk – was verstommend hoe die hoofkarakter se fisioterapeut vrou, MI6 intriges wat al 15 jaar lank onopgelos was, sommer so in n japtrap ge-fix het. Dit was redelik ongeloofwaardig.

Oom Jaap ·

Ek het die reeks geniet. Adam was net nie vir my ‘n geloofwaardige karakter nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.