Video: Hulde gebring aan Bradley Olivier by Silwerskermfees

Die rolverdeling van “Frankie en Felipé” kuier saam by die Silwerskermfees. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Vriende, familie en kollegas van die ontslape akteur Bradley Olivier het Donderdag by die 11de kykNET Silwerskermfees byeengekom om sy laaste rolprent, en sy lewe, te vier.

Bradley, wat veral bekend was om sy rol as Danny Jantjies in die kykNET-sepie Binnelanders, is op 20 Julie in die Life Flora-hospitaal in Roodepoort weens ’n brein-aneurisme dood.

Hy het saam met die akteur en komediant, Solomon Cupido, en die bekroonde rolprentmaker Brett Michael Innes die draaiboek van die speelfliek, Frankie en Felipé, geskryf.

Bradley en Solomon het ook dié rolprent, met onder meer Kim Syster, Bianca Flanders, Ilse Klink, Zane Meas, Shimmy Isaacs, Danny Ross, Bouwer Bosch, Lee-Ann van Rooy, Brendon Daniels en Terence Bridgett in die rolverdeling, vervaardig.

Solomon Cupido. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Frankie en Felipé handel oor Franklin Blaze (Olivier), ʼn hardwerkende, suksesvolle man uit ʼn arm agtergrond wat hy vir sy verloofde, Kim Fortuin (Syster), en kollegas wegsteek.

Wanneer sy halfbroer, Felipé Baadjies (Solomon Cupido), by sy huis aankom, is sy naderende troue en werkreputasie in gedrang.

Die desperate Felipé dreig om sy broer se geheim te ontbloot as hy hom nie help met geld wat hy aan ʼn wrede geldskieter moet terugbetaal nie. Frankie probeer Felipé paai deur hom by die bruilof in te sluit, ʼn besluit wat hy gou berou. Felipé is nie die soort jafel wat die welgestelde, gesofistikeerde Fortuin-familie naby hulle dogter wil hê nie.

“Ons gaan vir Bradley eer deur dié fliek wat ons saam geskryf en vervaardig het,” sê Solomon aan Maroela Media oor sy jarelange vriend en medeskrywer.

“Ons het so ver gekom, en ek mis hom verskriklik.”

Bouwer Bosch geniet dit telkens om deel te wees van ʼn Afrikaanse komedie. “Dit is altyd ʼn voorreg om deel te wees van enigiets wat ek vir die taal doen. Dit is al hoe die taal aan die lewe gaan bly en hoe dit gaan groei.”

Zane Meas. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Bradley se ma, Suzaan Gouws, het ook die première bygewoon. “Hy sou nou tussen almal rondbeweeg en almal laat lag het. Hy was so trots op sy werk en hy het so uitgesien na hierdie dag.

“Ek is so trots op [my seun]. Baie, baie trots.”

Lee-Ann van Rooi, wat die rol van Bradley se ma in die fliek vertolk, sê die fliek gaan kykers laat lag en huil.

“Dit is vir my wonderlik. In die middel van die lag kom daar ʼn traan.”

Die Silwerskermfees vind tot Saterdag 26 Augustus in Kampsbaai plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.