Die Proe’toria-fees is om die draai!

“Ek glo kos en kultuur is wat ons gemeenskap die beste bind en kan laat ontsnap uit die stres van die alledaagse lewe. Watter beter plek is daar dan ook nie om albei te geniet nie, as in die Pretoria Nasionale Botaniese Tuin – saam met vriende, familie, lekker kos en goeie musiek? Kom ontsnap saam vir ’n fantastiese dag in die stad,” sê Joe Foster oor die vierde jaarlikse Proe’toria-fees in Gauteng, waar hy een van die uitgesoekte sangers is wat gaan optree.

Op 31 Augustus 2019 vier EPH Events die Lente met die grootste proe- en vermaakfees wat die land nóg gesien het. “Hierdie jaar beloof om die beste Proe’toria ooit te wees. Oudergewoonte sal daar meer as ’n honderd verskillende kos- en drankstalletjies wees, asook hope vermaak vir die kinders en topklas kunstenaars op die verhoog,” vertel EPH Group se Leon Pheiffer.

Feesgangers kan vanjaar uitsien na die beste kos-, lekkerny-, kuns-, jenewer-, kunsbier- en wynstalletjies, met die grootste name in die musiek- en kosbedryf op een verhoog, waaronder Dewald Wasserfall, Roan Ash, Demi Lee Moore, Corlea, Touch of Class, Georgetown, Jemma, Deevah, Karlien van Jaarsveld en vele meer! ’n Paar bekendes in kosmaakwêreld gaan ook hulle beste kosmaakgeheime met die publiek kom deel.

Om dinge nog meer interessant te maak, sal dié geleentheid ook met vier verskillende feesverhoë spog, naamlik:
– Die hoofverhoog;
– Die wyntuin met Emil Paul, Pierre Nel en 2nd Life School of Music se studente;
– Die biertuin met WG Nel en Silver Creek Mountain Band; en
– Die kooktuin met deelnemers van Kokkedoor Seisoen 3.

Wynplase en uitstallers, van reg oor die land, gaan deel wees van dié geleentheid en sluit verskaffers in soos Dors Water, The Java House, The Pizza Wagon, Foodboyz, Hazeldean Brewing Co. en Lekker Spookasem, om maar net ’n paar te noem, en besoekers gaan vanjaar ook eers kan proe voordat hulle koop.

“Dis vir my alles waarvan ons Suid-Afrikaners hou, op een plek saamgevat. Lekker eet, lekker drink en lekker vermaak. Sien julle daar,” voeg Ruhan du Toit van Touch of Class by oor die vierde jaarlikse Proe’toria-fees.

“Hazeldean Brewing Co. gaan gesels oor plaaslike kunsbier, soos wat dit ook deur ons handelsmerk uitgebeeld word. Daarom is ons vreeslik in ons noppies om deel te wees van ’n unieke Pretoriaanse geleentheid soos Proe’toria! Kom ondersteun plaaslike produkte en help ons om te bou aan ’n uitsonderlike kos-, drankie- en kunsgemeenskap in die Jakarandastad,” verklap dié kunsbiervervaardiger as die rede waarom hulle by die fees betrokke is.

Feeshekke sal om 09:00 op die dag oopmaak en die vermaak sal tot 19:00 aanhou. Kaartjies is nou teen ’n afslagprys beskikbaar as jy vooraf aanlyn bespreek. Toegang vir kinders onder agtien is gratis, studente met ’n geldige studentekaart kan toegangskaartjies koop vir R80, pensioenarisfooie is R100 per persoon en volwassenes (ouer as twaalf) sal slegs R150 per kaartjie betaal. Op die dag sal kaartjies by die hekke beskikbaar wees teen R180 per volwassene.

As jy ’n bietjie skouers wil skuur met van die bekendes, ouer is as agtien en ’n paar ekstra voordele wil geniet, is BBP-kaartjies ook aanlyn te koop teen R550 per persoon!

Bankkaarte gaan ook vir veiligheid en gerief koning kraai tydens die fees, met behulp van Cashless King, en geen kontant sal by stalletjies aanvaar word nie.

Proe’toria is beslis die lekkerste manier om ’n kuier saam met vriende en familie te kombineer met die beste kos, drank en vermaak in die land. So waarvoor wag jy, bespreek nou jou plek vir die uitstappie van die jaar. Jy sal nie spyt wees nie!

Bly op hoogte van die nuutste nuus en verwikkelinge deur aan te sluit by die fees se geleentheidsblad.

SOSIALEMEDIASKAKELS

Facebook: Proe’toria Fees

Instagram: @proetoria_fees

Webblad: EPHProductions/proe-toria

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.