Aanlyn konsert wil stem aan kinders met spesiale behoeftes gee

Die akteurs en rolprentvervaardigers Anel en James Alexander bied die pragtige konsert al die pad van hulle huis in Hollywood in die VSA aan. (Foto: Verskaf)

Die gemeenskap met spesiale behoeftes is dikwels sonder enige stem en word maklik misverstaan.

Dit het plaaslike en internasionale kunstenaars laat saamspan om ʼn aanlyn konsert te reël ten bate van die Voice of the Speechless (VOS)-projek, wat deel is van die Brain Child Fund-organisasies.

Die akteurs en rolprentvervaardigers Anel en James Alexander bied die pragtige konsert al die pad van hulle huis in Hollywood in die VSA aan.

Kunstenaars soos Rubber Duc, Nathan Smith, Ziya, Christiaan Baartman, Sincerely Anne, Petronel Baard, Brad en Nicole (van die VSA) en Stefan Jansen het hulle tyd, spesiale liedjies en talent gegee om hierdie saak te ondersteun. Dit is beslis nie ’n konsert om mis te loop nie.

Vroeër vanjaar het Ziya – ’n Suid-Afrikaanse musikant, komponis, liedjieskrywer en medestigterslid van die Brain Child Fund, wat in tans in Philadelphia in die VSA woon, saam met haar man, Hannes, en hulle vier kinders – ’n insiggewende gesprek gehad met ’n ma wat deel is van die Brain Child Fund-netwerk.

“Ek het gevra hoe dit met hul gesin gaan gedurende grendeltyd. Sy het geantwoord dat dit nie verskil van hulle normale, alledaagse omstandighede nie. Hulle seun het ’n verswakte immuunstelsel, wat beteken dat hulle nêrens heen kan gaan nie,” verduidelik die musikant, wat self drie kinders met spesiale behoeftes het.

Dit is toe wat die lirieke van die hartroerende liedjie “Lonely Together”, wat tydens grendeltyd aan radiostasies reg oor die wêreld uitgereik is, begin vorm aanneem het.

“Lonely Together” is nou die amptelike titelsnit van Voice of the Speechless-projek, wat die sangeres se passie vir musiek en mense met spesiale behoeftes kombineer.

Ziya en haar seun Gian, wat die inspirasie was vir die lied “Lonely Together”. (Foto: Janine Truppay.)

“VOS is ’n sosialebewusmakingsveldtog wat van opvoedkundige vermaak gebruik maak om bewusmaking te skep oor mense met spesiale behoeftes, deur gebruik te maak van musiek en video’s,” het Ziya aan Maroela Media verduidelik.

Die projek is regtig die eerste van sy soort – die geluide wat gestremde kinders maak en hul omgewing word opgeneem en so word hulle stories in liedjies en musiekvideo’s vasgevang. Die doel is om die publiek insae te gee in die wêreld van diegene wat nie vir hulself kan praat nie. Kinders uit verskillende agtergronde en lande is hiervoor gebruik.

Brain Child Fund (BCF) is op sy beurt ’n organisasie wat fokus op mense met spesiale behoeftes. Hulle ondersteun die gesinne van gestremde mense deur hulle toe te rus met hoop vir die toekoms en ondersteuning vir die pad vorentoe.

Hulle fokus hul energie daarop om gesinne met spesiale behoeftes op te voed en te ondersteun, asook om die publiek bewus te maak van die menslikheid en uniekheid van individue met spesiale behoeftes deur middel van sport en kultuur. Die VOS- aanlyn liefdadigheidskonsert is ’n projek om hierdie doelwit te ondersteun.

“Die dag sal kom waarop mense met gestremdhede nie net aanvaar sal word nie, maar ook gevier sal word. Ons wil daardie dag met jou deel,” het Ziya gesê.

Hierdie konsert, wat ʼn lewe saam met mense met spesiale behoeftes vier, vind op Sondag 13 Desember om 20:00 plaas. Koop jou kaartjie teen slegs R75 op Go.Raindust ter ondersteuning van die projek en die Brain Child Fund.

Die konsert is vervaardig deur VOS, Starburst Promotions en Fathom Media. Koop ’n kaartjie om hierdie inisiatief te ondersteun of besoek www.voiceofthespeechless.org om ’n skenking te maak.

Vir meer inligting besoek VOS se Facebook-blad, Instagram, webwerf of YouTube-kanaal.

Kyk die video van “Lonely Together” hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

WLM ·

Baie goeie inisiatief. As ouer van n kind met spesiale behoeftes word ons werklik vir die wolwe gegooi. Daar is geen bystand van die staat nie so jou kind moet in n peper duur privaat skool wees en jy moet maar uit jou sak vir terapie betaal as jy een vd gelukkiges is om die fasiliteite in jou dorp of stad te he. Elkeen wil maar die beste vir sy kind he so jy maak allerhande planne om dit te behartig. Daar is ook baie min opgeleide onderwysers en dan doen hulle dit vir die liefde vd saak eerder as n salaris. Brain Child Fund ondersteun Family Hope Centre van Philedelphia in Amerika maar dit is ongelukkig te duur vir ons. Baie ouers haal maar hul kinders uit die skool en maak vrede met die situasie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.