Só wil Jana Viljoen ʼn stem aan gestremde kinders gee

jana-viljoen-2019-01-01

Jana Viljoen (voor links) en haar gesin. Voor saam met haar sit Leo en Abigale. In die middel regs sit Gian en agter is Kyna en Hannes. Foto: Verskaf.

“Soms ontwikkel jou beste idees uit jou diepste pyn en letsels.”

Só meen Jana Viljoen, wat nie net ʼn ma van vier kinders en ʼn musikant is nie, maar ook ʼn aktivis vir kinders met spesiale behoeftes. As daar iets is waarvan hierdie vrou kan getuig, is dit dat daar altyd rede vir hoop is.

Drie van die Viljoens se kinders het spesiale behoeftes. Oudste dogter Kyna (13) het ʼn pediatriese beroerte gehad op die ouderdom van 13 maande wat tot ʼn gedeeltelike verlamming in haar lyfie gelei het. Gian (12) het Downsindroom en Leo (11) is op die outistiese spektrum.

“Abigale (10) is ons ‘normale’ dogter, maar sy is haar suster en broers se grootste ondersteuner,” vertel Jana.

Maroela Media het al berig oor die Viljoens wat alles opgepak het om hulle kinders na die VSA te neem om naby die Family Hope Center in Pennsilvanië te wees. Die sentrum verskaf opleiding aan ouers om aan hulle kinders terapie te verskaf om beserings in die brein te behandel.

“Hoewel ons kinders nog hulle paadjie na welsyn stap, is almal reeds in hoofstroomskole opgeneem en het ons talle ontwikkeling- en mediese uitdagings oorwin.”

Jana en Hannes se ervaring met hulle kinders het hulle genoop om uit te reik na ander gesinne met kinders met spesiale behoeftes en so het die Brain Child Fund ontstaan wat ʼn ondersteuningsnetwerk vir sulke ouers bied. Verder poog die stigting om jaarliks kenners van die Family Hope Center na Suid-Afrika te bring om opleiding aan ouers te verskaf sodat hulle hul eie kinders met spesiale behoeftes kan bystaan.

Terwyl Jana besig was met die terapie in 2010 in ʼn kelder van hulle Amerikaanse gasvrou se huis het sy en haar kinders tot 2 km per dag gekruip.

“Gian, wat ook nieverbaal is, was besig om te kruip en dan hoor ek hoe sy handjies oor die matte skuif.

“Ek het toe gewens ek kan die klank opneem, asook sy harde asemhaling en die mamma-mamma-klank wat hy gereeld maak. Ek wou dit in ʼn tapisserie van klank inweef en ʼn liedjie skryf waarin ek dit kon gebruik sodat ek vir my kind ʼn stem kan gee.

“Gian is baie intelligent. Al kan hy nie praat nie, het hy alternatiewe maniere van kommunikasie en die goed wat hy tik, is ongelooflik. Dit is amper soos ʼn 60-jarige wat vasgevang is in hierdie lyfie waar hy nie kan doen wat hy wil nie.”

Jana het agt jaar later besluit sy moet weer iets met haar musiek doen. Sy het toe ʼn uitdaging aangepak waarin sy 100 liedjies in 100 dae geskryf en opgevoer het.

Een van dié liedjies was ʼn wiegeliedjie en ʼn mamma het haar laat weet die lied het haar deur ʼn baie moeilike nag gedra waarin haar kind talle epileptiese toevalle gehad het.

“Ek het eers toe weer onthou van my Voice of the Speechless-idee, maar my visie het nou gegroei na ʼn plek waar ek met gesinne oor die hele wêreld heen wil werk. Ek wil ʼn klank- en kameraman saam met my neem wat hierdie gesinne en hulle kinders se huishoudelike klanke sal opneem.

“Dan wil ek ook onderhoude voer met daardie kinders se gesinne.”

Jana sê sy wil nie net vir die kindertjies ʼn stem gee nie, maar ook die stigma rakende gestremdhede verbreek.

“Ek wil die wêreld se oë oopmaak vir die potensiaal van kinders met spesiale behoeftes en mense wys hoe intelligent hulle is.

“Dit is belangrik dat mense nie jammer vir hierdie kinders en gesinne voel nie, maar eerder die ongelooflike waarde van hierdie spesiale individue insien.”

  • Besoek Brainchildfund.org vir meer inligting oor Jana se Voice of the Speechless-projek.
  • Ouers van kinders met spesiale behoeftes en ander belangstellendes kan ook ʼn oueropleidingskonferensie van die Family Hope Center 15 tot 17 Februarie by die Faircity Roodevallei Hotel in Kameeldrift, oos van Pretoria, bywoon. Vir meer inligting besoek Familyhopecenter.com of stuur ʼn e-pos met navrae na [email protected]. Onthou om jou kind se naam en diagnose in die e-pos by te voeg sodat personeel kan weet hoe hulle jou kan bystaan.
  • Jana Viljoen bied Saterdag ʼn interaktiewe leerervaring aan wat mense in die skoene van kinders met spesiale behoeftes sal plaas. Die vertoning met die titel Spectrum is gratis en vind op 19 Januarie om 18:30 by die Protea Fire and Ice Hotel in Menlyn plaas. Besprekings is noodsaaklik en kan by Eventbrite.com gedoen word.

Luister na Jana se gesprek met Esté Meyer Jansen van Maroela Media boaan hierdie artikel. Sy vertel meer van die besonderse projek wat sy aanpak om kinders met spesiale behoeftes en hulle gesinne ʼn stem te gee. Luister ook na Jana en haar seun Gian se spesiale liedjie, “Paradox”, aan die einde van die onderhoud.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Piet Pompies ·

Uitstekend werk, met liefde en die regte kennis kan mens behoeftige kinders toerus om hulle lewe optimaal te benut.
My vrou is ‘n kleuterskool klasjuffrou en dit het al so baie keer gebeur dat kinders met spesiale behoeftes deur haar klas kom en die ouers saam met haar werk om regstellings te doen en dan sien jy jare later dat die kinders hulle lewe ten volle geniet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.