Aitsa-toekennings uitgestel weens Covid-19-pandemie

Die Aitsa-toekenning (Foto: Verskaf)

Die Aitsa Trust en Pretoria FM het pas aangekondig dat vanjaar se Aitsa Afrikaanse Musiektoekennings na volgende jaar uitgestel word.

Volgens ʼn verklaring is al die faktore ten opsigte van die huidige koronavirus-pandemie in ag geneem en was die trustees dit eens dat dit tans baie moeilik is om ’n voorspelling te waag oor moontlike geleenthede vir die res van die jaar.

“Die eerste Aitsa-musiektoekennings van 2019 was ’n reusesukses en is deur meer as 4 700 mense bygewoon. Dit is tans onseker hoe lank die regering se verbod op groot byeenkomste, wat reeds voor die huidige staat van inperking ingestel is, gaan bly bestaan — selfs al word die staat van inperking op 16 April opgehef,” lui die verklaring.

Die organiseerders wil ook verseker dat die belange en die gesondheid van kunstenaars, produksiespanne en toeskouers ten alle koste eerste gestel word.

“Die goeie nuus is dat alle potensiële inskrywings vir vanjaar se toekennings steeds kwalifiseer om vir 2021 se Aitsa-toekennings in te skryf! Die kwalifiserende tydperk sal verleng word om vir almal voorsiening te maak.”

2019 se Aitsa-toekennings (Foto: Verskaf)

Die organiseerders het gesê dat die Aitsa-2020-’21-toekennings weer ʼn wêreldklasvertoning van die land se beste Afrikaanse kunstenaars sal wees.

“Eretoekennings sal weer aan kunstenaars en rolmodelle wat diep spore in Afrikaanse musiek en kultuur getrap het, oorhandig word.”

’n Nuwe datum is nog nie aangekondig nie.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.