Aitsas: Vastrap-treffers ook vereer

Klipwerf Orkes. (Foto: Verskaf)

In November vereer die Aitsa-musiektoekennings weer die room van die Afrikaanse musiekbedryf en die publiek word genooi om deel te wees van die geleentheid.

Die publiek kan ook vir hul gunstelinge in onderskeie kategorieë, soos die gesogte kategorie vir boeremusiekliedjie van die jaar, stem.

Die VatVas Dansorkes het twee benoemings in dié kategorie vir die liedjies “Vaaldam toe” en “Volstruis-vastrap”.

Donovan de Buys is ook twee keer benoem vir die liedjies “Sondebok” en “Misvloer-settees”. Voetstamp is benoem vir die liedjie “Petronella”.

Vasvat Dansorkes (Foto: Anja van der Merwe/ Maroela Media)

Die Aitsa-toekennings is geskep as ʼn onafhanklike geleentheid waartydens die room van die Afrikaanse musiekbedryf op grond van uitmuntende prestasies beloon word. ʼn Rekordgetal inskrywings is vir vanjaar se pryse ontvang.

ʼn Weeklikse program waartydens die finaliste in die onderskeie kategorieë bekend gemaak word, sal op Pretoria FM uitgesaai word. ʼn Uittreksel van elke kunstenaar, duo of groep se snit sal gespeel word sodat lede van die publiek ʼn ingeligte besluit kan neem oor wie uiteindelik as wenner aangewys moet word.

Kaartjies na die toekenningsgeleentheid kan jy aanskaf by iTickets. Die kaartjies kos R250 per persoon.

Stemme kan op Pretoria FM se webwerf  gemaak word. Die wenners sal tydens ʼn glansgeleentheid op 29 November bekend gemaak word by die Choose Life-kerk in Moreletapark, Pretoria.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.