Akademia stel eerste sêrgroep bekend

Foto ter illustrasie (Foto: Thirdman/Pexels)

Die private Afrikaanse hoëronderwysinstelling Akademia se studentelewe floreer behoorlik. Die instelling het pas sy heel eerste sêrgroep, wat uit vyftien vroue bestaan, bekendgemaak, en daar sal in die volgende paar maande ook ʼn mansêrgroep gestig word.

Die Fontie-dames se splinternuwe sêrgroep bestaan uit Louisa Visser, Ziancí van Zyl, Christelle Oerlemans, Chloë Morrow, Ané van Rooyen, Danet van Wijk, Bochule Swanepoel, Jame Lukas, Larissa van Zyl, Nicole du Plooy, Kayla du Plooy, Shane Broderick, Kara Durie, Marisha Hermann, en Deidré Fischer.

“Ons wil vir die Fonties ʼn ongelooflike nuwe platform bied waarop hulle hul musikale talente kan uitleef en ontwikkel,” sê die groep se afrigter MJ Nel.

Volgens Nel is die doel van hierdie groepe by Akademia om die instelling ʼn voorloper in Suid-Afrikaanse universiteitesêr te maak.

“Sêr het selfvertroue en musikale vermoëns by my gekweek wat ek vir die res van my lewe sal kan gebruik. Ek hoop dat die Fonties dieselfde kan ervaar.”

Nel is al sedert 2017 by verskeie musikale projekte en optredes betrokke en hy het ook in die drie jaar wat hy by die NWU sêr afgerig het meer as 50 verwerkings geskryf. Hy het vele groepe gehelp om hul volle potensiaal op die verhoog te ontwikkel en hoop om dieselfde vir Akademia se studente te doen.

Die oudisies vir die vrouegroep het op 5 Julie plaasgevind waar die studente elkeen ʼn 30-sekondegreep van ʼn liedjie moes voorberei. Die beoordelaars was Nel en Douard d’Assonville, studentesakekoördineerder by Akademia. Vroue wat oudisies afgelê het se gehoor en stemomvang is saam met ʼn klavier getoets.

“Hierdie oudisies het my wildste verwagtinge oortref. Die studente het wonderlike stemme en tonne potensiaal,” vertel Nel.

Wat die meeste vir hom van die vrouestudente uitgestaan het, is hul bereidwilligheid om te probeer en om deel te word van ʼn sêrgemeenskap.

“Hulle het ʼn baie positiewe gesindheid rakende hierdie aktiwiteit gehad, wat besonders is aangesien hulle nog nie voorheen aan sêr blootgestel is nie. Ek sien uit om saam met die groep te werk.”

D’Assonville sê dat so ʼn ervaring studente die geleentheid gee om hulle talente aan die groter studenteomgewing ten toon te stel. Boonop lei dit daartoe dat hulle so baie tyd saam met mekaar deurbring dat hulle mekaar goed leer ken en ʼn studentegemeenskap vorm.

“Die oomblik wanneer studente die geleentheid kry om iets wat hulle geniet met ander studente te deel wat soortgelyke belangstellings het, bou dit ʼn ongelooflike band.”

Die instelling is opgewonde om te sien hoe die Fontie-sêrgroep van krag tot krag gaan. “Mag elkeen van julle geluk en verbondenheid in die musiek en mekaar vind.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Miskruier ·

Mnr Lesufi kyk met spyt en nyd terug na sy loopbaan 2030

Keelvol ·

Met laas jaar se verkiesing het die DA gesê hulle kry dinge gedoen…… ek wag.

Patch ·

Akademia gaan van krag tot krag. Hou die spasie dop, ons gaan nog groot dinge hier sien gebeur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.