Blyspel oor Gelofte eersdaags op planke

‘Die Gelofte: ʼn Musiekblyspel’ volg die gebeure voordat “Die Gelofte” tydens die Slag van Bloedrivier afgelê is. (Foto: FAK)

Die musiekvervaardigers Inhoud Huis, onder leiding van Johan Vorster en Jacomien de Wet, en die draaiboekskrywer Jannes Erasmus se splinternuwe musiekblyspel sal eersdaags op die planke wees.

Die Gelofte: ʼn Musiekblyspel volg die gebeure voordat “Die Gelofte” tydens die Slag van Bloedrivier afgelê is. Die produksie sal by die AfriForum-teater in Pretoria sy aanvang neem.

Dit is ’n geskiedkundige stuk, verpak in ’n hedendaagse pakkie en handel oor Aimee en Ali, twee hoërskool-dramastudente wat ’n kis vol briewe onder in die teater se kelder ontdek. Hulle leer ken die verhaal van Sarel Cilliers en die Voortrekkers, wat saam met sy gesin oor die Drakensberge getrek het na die beloofde land.

’n Liefdesverhaal ontvou ook tussen twee jongmense wat skynbaar onmoontlik ‘n gelukkige einde kan hê.

Buiten Erasmus, wat ook self die regie behartig, is die musiek en lirieke deur Vorster en De Wet geskep, terwyl Francois Lessing aan die stuur van orkestrasie en musiekregie staan.

“Wanneer jy na hierdie musiekblyspel kom kyk, sal jy verstaan waarom dit belangrik is om dié verhaal te vertel. Daar word parallelle getrek wat oor byna 200 jaar strek en vandag steeds relevant is. Grond, gesinsbande en die grusame werklikheid van die lewe,” sê Erasmus.

Johan Vorster. (Foto: Verskaf)

“Dit is ʼn voorreg om die pen vas te hou, maar daar rus ook ’n groot verantwoordelikheid op my om met menslikheid en deernis in die regisseurstoel te sit. Die geskiedenis kan nie herskryf word nie, maar dit kan vanuit ’n ander perspektief benader word.”

Vorster en De Wet sê die skryf van hierdie musiekblyspel “het ons lewens verander”. “Ons het aanvanklik gedink dat die verhaal slegs ’n deel van ons geskiedenis is, maar dit is soveel meer. Ons vertrou dat elke persoon wat hierdie musiekblyspel gaan kyk, se lewens ook aangeraak sal word. Daar was hoop vir ons in 1838 en daar is steeds hoop vir ons vandag.”

Die produksie spog ook met ’n sterbelaaide rolverdeling, onder wie Johan Vorster, Nadia Beukes, Bernice West, Eddie de Jager, Zöricke Snyman, Jacomien de Wet en nuweling Ilán van Staden.

Vorster, wat bekend is as liedjieskrywer en vervaardiger van Afrikaanse treffers soos “De la Rey”, “Pa en Seun”, “Eendag as ons Groot is”, “Swart Koffie”, “Skepe”, “Nonna” en “Net voor die Storm kom”, maak ná ’n dekade agter die skerms vir die eerste keer weer sy buiging op die verhoog.

Hy het laas as deel van die Suid-Afrikaanse Musiektoekennings (SAMA)-bekroonde musiekgroep Eden opgetree. Vorster het ook vir twee jaar ʼn Bybelskool bygewoon ter voorbereiding vir sy rol in dié blyspel.

Nadia Beukes is ook ’n bekende gesig op die kassie en die verhoog en sien uit na die geleentheid om weer op die verhoog te wees na twee jaar van inperking.

“Die kreatiewe span wat aan hierdie stuk lewe gegee het, is uiters talentvol en dit is veral die musiek wat my in vervoering het. Daarmee saam, is dit wonderlik om te sien hoe die AfriForum-teater die kunste ondersteun en ek hoop hierdie is die begin van vele soortgelyke produksies in die toekoms. Ek glo werklik dit is iets wat mense se harte gaan raak,” sê sy.

West, ’n groot gunsteling in musiekkringe, deel Beukes se entoesiasme en is baie opgewonde om deel van hierdie projek te wees.

“Ek sien uit na die verhoog, die mense en om mense se reaksie te sien op die unieke manier waarop ons dié geskiedkundige verhaal vertel.”

Jannes Erasmus. (Foto: Verskaf)

Die AfriForum-teater vier vandeesmaand sy eerste verjaardag en sê die produksie beloof om die standaard hoog te stel aan die begin van dié jong teater se tweede bestaansjaar.

“By die AfriForum-teater skep ons nie net ’n platform vir die Afrikaanse kunste nie, maar ons bring ook die Afrikaanse gemeenskap bymekaar. ‘Die Gelofte’ is ’n belangrike deel van ons erfenis wat oorvertel en herdenk moet word,” sê Carien Bloem, teaterbestuurder van AfriForum-teater.

“Dit is meer as ’n dekade sedert daar ’n geskiedkundige blyspel van dié aard op die planke was. Ons sien daarna uit om hierdie blyspel op ons verhoog te verwelkom en is trots om deel daarvan te wees.”

Die Gelofte: ʼn Musiekblyspel is iets vir die hele gesin en sal vanaf 6 tot 29 Mei 2022 op die planke wees.

Kaartjies kos R350 per persoon en is hier beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.