Demi sê oor danstreffer, ‘Die Kontrak’-oorwinning

Demi Lee Moore. (Foto: Hendri Viljoen/Skoll Photography & Design/Verskaf)

Met ʼn nuwe enkelsnit, ʼn tweede Die Kontrak-oorwinning as mentor in die sak, én ʼn rits uitverkoopte Afrikaans is Groot (AiG)-optredes agter die rug, sluit die Afrikaanse sangeres Demi Lee Moore 2023 op ʼn behoorlike hoë noot af.

“Hart breek” is die engelstemsanger se eerste enkelsnit na byna twee jaar en volgens Demi sinspeel die naam op haar bekendheid vir hartbreektreffers soos “Mis, eet, slaap, herhaal” en “Wie se hart breek jy vanaand?”.

“Ek wil nie nuwe musiek uitbring as ek dit nie in my hart voel nie, en ek het gedink dit is tyd vir iets nuuts en vars. Ek wou hê mense moet aanvanklik dink: ‘genade, nóg ʼn breakup liedjie’, maar dan is dit eintlik glad nie so nie,” vertel sy laggend aan Maroela Media.

“Die liedjie se woorde gaan ook, op ʼn manier, baie oor my en my man. Ons is nie een eintlik dansers nie, maar tog sal ons saam met mekaar dans. Ek voel dit gaan daaroor dat ʼn mens sekere dinge nie noodwendig alleen wil aanpak nie, maar dit kan trotseer as jy jou mense om jou het.”

Demi sê die liedjie het drie maande terug op haar pad gekom en haar genoop om buite haar gemaksone te tree en in die musiekvideo te dans – nou dans duisende mense ook op dié deuntjie in TikTok-video’s.

Sy het aanvanklik al haar vriende genooi vir ʼn kuier, maar hulle toe verras en gevra om saam met haar in die musiekvideo te verskyn.

“Ek het geweet die helfte gaan nie kom as hulle vooraf geweet het hulle moet dans nie, maar almal het dit vinnig geleer. Ek is so bly oor hoe dit uitgekom het, dit was soveel pret.”

Demi wen Die Kontrak ʼn tweede keer

Chris Steyn, oftewel Chris Plakkies soos aanhangers hom ken, se oorwinning in die derde aflewering van die sangkompetisie, Die Kontrak, was volgens Demi ʼn volsirkel-oomblik.

Sy het self in 2018 met Arnold Coleske se wenkontrak ter waarde van R1 miljoen weggestap tydens dié program se eerste seisoen, en nou het sy as mentor vir Chris gehelp om dieselfde kontrak los te slaan.

Demi sê ander het getwyfel oor Chris se kanse in die kompetisie weens die 19-jarige se gebrek aan ervaring, maar haar hart het van die begin af ʼn ander deuntjie oor hom gesing.

Demi Lee was Chris Steyn se mentor op die ‘Die Kontrak 3’. (Foto: Instagram/Demi Lee Moore).

“Toe ek die eerste keer na Chris se video kyk, het sy stem my dadelik geboei. Ek het vir my man gesê: ‘dié outjie kán wen’, en het gekies om nie na ander se opinies oor hom te luister nie, want ek het ʼn plan met hom gehad.”

Sy vertel dat Chris uiters gewillig was om te leer en beide haar en haar musikantman, Barthlo Visagie, as mentors omarm het. Deesdae kuier die paartjie sommer gereeld saam met Chris se familie.

“Hy het nagte om by ons gesit en oefen, en my man het hom veral met die tegniese aspekte bygestaan wanneer hy op die verhoog oorweldig gevoel het. Sy absolute vertroue in my het die hele proses so sorgloos laat voel, en nou voel hy skoon soos familie. ”

Sy was ook vasbeslote om nie die “plakkieskind” se persoonlikheid, óf skoendrag, te verander nie.

“Sy menswees spreek boekdele, want gehore het dadelik by hom aanklank gevind. Dit is so belangrik om opreg te wees as jy suksesvol wil wees, want die publiek is nie dom nie. Jy kan nie aansitterig wil wees nie, dit gaan jou later inhaal.”

Demi skerts dat sy en Chris saam die trane moes terughou toe sy naam die aand van 24 November op die AiG-verhoog as die wenner uitgeroep is. “Ek het gesien hy het begin huil, toe sê ek ‘nee, nee, jy kan nie nou huil nie, jy moet sing!’. Ons probeer toe om mekaar eerder te laat lag.”

As sy nie self op die verhoog was nie, het sy vir Chris van die kantlyn af by elke AiG-vertoning daarna ondersteun.

“Ek het gebars van die trots en dit so geniet as die skare vir hom gejuig het – veral wanneer die kamera op sy plakkiesvoete was. Nooit sou ʼn mens dink dat só iets op AiG sou werk nie, maar ek het in my hart geweet dit sal.”

AiG bly vir haar ʼn voorreg

Nes haar dekade lange loopbaanreis ná haar Die Kontrak-oorwinning, glo Demi dat sy vanjaar opnuut geleer het om die Here se tyd te vertrou.

“ʼn Mens weet nooit hoe lank jy relevant in dié beroep gaan bly nie, en ek is so dankbaar vir my nuwe lied, want verlede jaar dié tyd was ek maar bitter hartseer omdat ek nie nuwe musiek gehad het nie. Ek moes net geduldig wees, toe val alles weer so mooi in plek.”

Daarom aanvaar sy tot vandag toe ook geen stukkie sukses wat die afgelope vyf jaar op haar pad gekom het as vanselfsprekend nie – veral haar optredes op die AiG-verhoog.

Vanjaar “vlieg” sy selfs bo skare in dié skouspelagtige vertoning.

“Dit bly maar net ʼn belewenis om voor só groot gehoor te sing. Ek is so dankbaar en was tot my verbasing vreesloos om so bo almal te wees en die gehoor van daar bo af te beleef.”

Demi sê daar lê nie rus vir haar en haar man dié Desembermaand voor nie, maar die paartjie gaan in Januarie ʼn blaaskans vat na ʼn rits vakansievertonings. Hulle vier dan ook hul eerste huweliksherdenking.

“Ons is baie bevoorreg om saam te kan reis en te werk. My hart breek vir kunstenaars wat hul geliefdes weke of maande aaneen by die huis moet los as hulle op die pad is. Dit is iets wat ek nie ken nie, want ek en Bart is al nege jaar saam en hy is met byna elke vertoning by my.”

Volgens Demi speel Barthlo, ʼn ervare musikant in eie reg, ʼn groot rol in haar suksesverhaal.

“Ek sê gereeld dit is dalk my naam wat almal ken, maar alles wat ons vandag het, het ons saam gebou. Hy het saam met my vir drie jaar in hotelle gespeel, en ek het baie geleer by hom. Hy is my veilige vesting en die afgelope 11 maande was seker die lekkerste van ons lewens.”

  • Kyk die musiekvideo vir “Hart breek” hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.